'n Lid van ons gespreksforum vra raad vir sy skape wat swere tussen hul kloue het weens bosluisbyte.
Vraag:
Met al die goeie reën het die bosluispopulasie so sterk toegeneem dat ek nou probeer om al die diere minstens een keer elke twee weke deur 'n voetdip te laat beweeg. Nogtans het ek nou groot las met skaap met swere tusssen die kloue waar die bosluise hule gebyt het. Ek lees nou dat daar 'n entstof is wat dit kan beperk. Enigiemand met ondervinding daarvan? Enige raad?
Ek gooi die volgende in die voetdip: Prodip volgens voorskrif, sink- en kopersulfaat volgens voorskrif, en ook 'n bietjie diesel of ou olie om die mengsel meer klewerig te maak. Sal nou nog ontsmettingsmiddel ook byvoeg. Dit wat nou hier by my gebeur is sweerklou weens bosluise en nie vrotpootjie nie. Die swere is tussen die kloue en nie soseer binne-in die kloutjie nie. - Andre Geldenhuys
Hannes Weilbach skryf:
Ek het erge probleem met vrotpootjie/sweerklou gehad en het 'n entstof gebruik wat 'n laboratorium in Johannesburg gemaak het. Ek het eers gedink dat dit nie werk nie maar 'n jaar tot nou drie jaar later het ek geen probleme nie, terwyl my bure probleme het. Ek dink egter dat die probleem wat jy het, nie so opgelos kan word nie. Ek sou sinksulfaat en ontsmettingsmiddel in die voetbad gooi.
Leon Kruger skryf:
Vrotpootjie word veroorsaak deur die bakterie Dichelobacter nodosus en sweerklou ontstaan wanneer bosluise wonde veroorsaak tussen die hoewe en kan deur verskeie bakterieë veroorsaak word. Ek het goeie sukses met die behandeling deur die sweer oop te sny (slegs 'n baie klein snit is nodig) en dreineer. Vul die krater op met wondsalf, verkieslik een wat povidoon jodium bevat. Dan bedek ek die wond, eintlik die hele hoef met paraffien gaas (Jelonet) en dan verbind ek die pootgewrig met verband en wit pleister. Spuit penisillien en hou die dier dan aan op enkel hok met diep skaafsels. Na drie dae vervang ek die verbande en gewoonlik is die poot dan soveel beter dat die dier kan terug gaan trop toe.
9 April 2009
Kommentaar
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)