|
|
|
| Bygewerk: | 24 May 19:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 68% |
| Wind: |
'n Uitbreking van Amerikaanse vuilbroedsiekte in die Wes-Kaap kan die heuningbedryf in dié provinsie ernstig knou, sê mnr. John Moodie, voorsitter van die Suid-Afrikaanse byeboere se bedryfsorganisasie, Sabio. Dié aansteeklike siekte is vir die eerste keer in Januarie in die omgewing van Maitland en Wingfield opgemerk.
"Die departement van landbou en plantbeskerming is besig om dringende maatreëls in te stel om die Amerikaanse vuilbroedsiekte te keer voordat al die bye daarmee besmet is. 'n Oplossing moet voor die lente gevind word, want sowat 30 000 byekorwe word in September uitgeplaas vir bestuiwingsdoeleindes," sê Moodie.
Die bakterie Paenibacillus het vermoedelik die land in onbestraalde heuning binnegedring, waarna bye met die besmette heuning in aanraking gekom het. Alle heuning wat ingevoer word, moet met elektrone bestraal word om siektes te voorkom, maar dié bakterie word eers teen 150 grade Celsius vernietig.
Moodie sê byeboere moet hul korwe bestudeer om vas te stel of hulle besmet is. As daar meer as 50 besmette larwes in 'n korf is, moet die korf vernietig word. Besmette korwe word verbrand en begrawe om verdere verspreiding stop te sit.
"Ons weet nog nie hoe ons bye op die siekte gaan reageer nie, maar ons weet dat antibiotika nie suksesvol is om die siekte te stuit nie."
Bron:
Die Burger (Die Burger)
23 Maart 2009
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24