Benewens die saak van regsverydeling waarop 'n polisieman van Ceres tereg staan, het dit aan die lig gekom hy staar ook klagte van korrupsie en straks ook aanranding in die gesig.
Insp. Matthew Ntshanga, die vermeende baasbrein in die Rawsonville-sage, het in 2006 glo twee plaaswerkervroue en 'n seun met 'n skokstok gedwing om te sê een van die vroue is deur vier boere verkrag en die seun is ernstig aangerand. Hulle het later erken dit is vals.
Nou is daar ook sprake dat Ntshanga vir korrupsie en aanranding vervolg word. Die Ceres-landdroshof het bevestig daar is 'n klag van korrupsie op die klagstaat. Hulle kon nie meer inligting gee nie.
By navraag het Ntshanga se stasiebevelvoerder, supt. Moos Klein, gesê: "Daar het hier en daar 'n aanrandingtjie bygekom, maar niks so ernstig soos korrupsie nie." Hy kon ook nie meer inligting verskaf nie, want "daar is so baie klagte".
Klein sê "skorsing is die laaste uitweg. Die proses moet eers sy gang loop," oor die feit dat Ntshanga steeds in die tuig is en nie tydelik geskors is nie.
17 Desember 2008