|
|
|
| Bygewerk: | 24 May 19:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 68% |
| Wind: |
Clover se versuim om binne die toegelate tyd te reageer op 'n aanklag van samespanning in die melkbedryf kan hom 'n boete van 10 % op sy omset op die hals haal. Dit volg ná 'n ondersoek deur die Mededingingskommissie gelas is. Volgens 'n berig in Sake24 beloop Clover se jaarlikse omset meer as R3,6 miljard.
Luidens 'n verklaring wat deur die kommissie uitgereik is, word gevra dat 'n verstekvonnis teen Clover uitgereik word aangesien die maatskappy in gebreke gebly het om teen 15 Februarie vanjaar antwoorde aan hom te verskaf rakende beweringe van kartelvorming deur sewe melkverwerkers in die land.
Colver staan die aansoek teen wat verlede Donderdag voor die Mededingingstribunaal aangehoor sou word en sou aanvoer dat hy nie al die dokumente ontvang het waarop die kommissie se klag gegrond was nie.
Die ondersoek na samespanning in die melkbedryf het reeds in 2005 begin en die Mededingingskommissie het vroeër vanjaar sy skuldigbevinding teen die verwerkers bekend gemaak. Die kommissie het bevind dat die kartel melkpryse vir verbruikers kunsmatig hoog gehou het. Die saak is na die tribunaal vir finale beslissing verwys.
Die bevindinge van die ondersoek van die kommissie oor klagte van onmededingende praktyke onder melkkopers het, toe dit bekend gemaak is, uiteenlopende reaksie onder melkboere uitgelok. Ofskoon die bevindinge deur sommige verwelkom is, het ander gemeen dat boere vir die gelag sal moet betaal as die Mededingingstribunaal die kopers strawwe boetes sou oplê.
Mnr. Bertus de Jongh, besturende direkteur van die Melkprodusente-organisasie van SA, het ná die bevindinge aan Landbouweekblad gesê dat dit 'n potensieel tweesnydende swaard is. Hoewel dit waarskynlik praktyke sal beëindig wat daartoe gelei het dat produsentepryse styg na gelang van die markfaktore, daar ook substansiële boetes ter sprake is.
De Jongh sê die beste oplossing sou wees as 'n "opgeskorte vonnis" aan die kopers gegee word. Sodoende kan produsente én verbruikers bevoordeel word.
Die produsenteprys vir melk is sedert die bevindinge van die kommissie skerp opwaarts aangepas in die lig van die groot melktekort waarop die land afstuur.
Landbouweekblad, 7 Julie 2007
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24