Agriwiki

Trekkerwerf

Hunter & Jagter

Farming SA

Demonstrasies by Nampo-Oesdag aanstaande jaar terug

 

Hoewel daar vanjaar geen werktuigdemonstrasies op die Nampo-Oesdag aangebied sal word nie, sal demonstrasies wel weer volgende jaar deel van die verrigtinge wees.

Dit volg op 'n versoek van die Suid-Afrikaanse Landboumasjinerie-assosiasie (Salma) dat demonstrasies slegs elke tweede jaar aangebied word. Dit is omdat dit sy lede baie geld kos om die werktuie wat benodig word, daarheen te vervoer. Aanvanklik het Salma versoek dat die Oesdag net elke twee jaar aangebied word. Graan SA was egter nie bereid om aan dié versoek toe te gee nie.

Mnr. Jub Jubelius, voorsitter van die Nampo-Oesdag, sê die besluit is nie ligtelik geneem nie. "Dit is slegs gedoen om die uitstallers van werktuie tegemoet te kom in hul poging om koste te beperk en om hul voortgesette deelname te verseker. As daar gevind word dat hierdie toegewing nie vir die Oesdaggangers aanvaarbaar is nie óf dat dit die Oesdag benadeel, sal daar beslis vanaf 2008 voortgegaan word om jaarliks te demonstreer."

Die besluit is ook op Graan SA se kongres deur afgevaardigdes bevraagteken. Mnr. Bully Botma, vorige voorsitter van Graan SA, sê die demonstrasies is 'n belangrike en inherente deel van die Oesdag en alles moontlik moet gedoen word om die tradisie te behou.

Daar is ook besluit om nie met die veeveiling voort te gaan nie aangesien dit nooit aan verwagtinge voldoen het nie. Jubelius sê daar sal egter heelwat meer veeverwante uitstallers te sien wees.

Die 4x4-demonstrasies word steeds om 11:00 en 15:00 daagliks aangebied en besoekers sal in die voertuie kan ry. Twee produkbekendstellings (vir 'n viertrek en 'n spesiale nutsvoertuig) word as 'n hoogtepunt op die voertuigspyskaart beskryf.

Meer as 600 uitstallers neem vanjaar aan die Oesdag deel wat van 15 tot 18 Mei buite Bothaville aangebied word. Jubelius sê die fokus is steeds op die behoeftes van boere en op landbouverwante uitstallers van gehalte. "Dit gee deurlopend die toon aan van wat tot die produsent se beskikking is om risiko's te beperk en wins te verhoog."

Hekke na die Nampo-park open daagliks om 07:00 en sluit om 17:30. Toegangsgeld is R50 per persoon en parkering is gratis.

Landbouweekblad, 20 April 2007

0