|
|
|
| Bygewerk: | 25 May 01:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 72% |
| Wind: |
Die stadige tempo waarteen grondhervorming geskied, haar versuim om grondbelasting te beveg en haar "tweeslagtigheid" oor die beginsel van gewillige koper, gewillige verkoper. Dit is van die redes waarom me. Thoko Didiza, die Minister van Landbou en Grondsake, verlede jaar een van Kabinetsministers was wat die laagste puntetelling in die Demokratiese Alliansie (DA) se jaarlikse beoordeling ontvang het.
Didiza se nuutste punt van drie uit tien is twee punte laer as wat sy in 2004 ontvang het.
Haar voorstel aan die begin van verlede jaar om ras by aktes in te sluit om vordering met grondhervorming te meet en haar versuim om 'n moontlike moratorium op buitelandse grondbesit teen te staan, het haar heelwat punte gekos.
Sy het verder punte verloor weens haar "tweeslagtigheid en soms afkeurigheid" teenoor die markgerigte benadering tot grondhervorming. Volgens die DA is daar vele bewyse dat amptenare van die Departement van Grondsake misluk in die uitsoek van gewillige kopers en is die minister se gebrek aan vertroue in dié beginsel ongegrond. Die aankondiging in Oktober oor die onteiening van ses plase in Noordwes behoort fyn dopgehou te word.
Didiza druip ook weens die "min bystand wat aan opkomende produsente gegee word".
Mnr. Eddie Mohoebi, 'n woordvoerder van die departement, het in reaksie aan Landbouweekblad gesê daar moet gekyk word wie die beoordeling doen en om watter redes. Hy sê die DA gebruik dit vir politieke gewin.
"Ons is nie bekommerd nie. Die DA is bloot 'n politieke party. Ek vermoed die minister sal net besorg wees indien hierdie beoordeling oor haar werksaamhede deur die grondlose meerderheid gemaak word die mense wat destyds met geweld van hul grond verwyder is."
Me. Phumzile Mlambo-Ngcuka, die Adjunk-president, se telling van sewe uit tien kon beter gewees het as dit nie was nie vir haar stelling verlede jaar dat Suid-Afrika "'n paar lesse by Zimbabwe kan leer". Sy het later beweer dit was skertsend bedoel.
Mnr. Charles Nqakula, die Minister van Veiligheid en Sekuriteit, moes, soos Didiza, met drie uit tien tevrede wees. Dit is grootliks weens die probleme met die nuwe Vuurwapenwet.
31 Maart 2006
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24