|
|
|
| Bygewerk: | 25 May 01:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 72% |
| Wind: |
Die belangrikste oogmerke met die nuwe Drankwet is die herstrukturering van die drankbedryf en om die maatskaplik-ekonomiese probleme te probeer oplos wat spruit uit misbruik op alle vlakke.
Die Drankwet het verlede maand in werking getree. Volgens die Departement van Handel en Nywerheid word daar skerp gefokus om drankmisbruik onder werknemers in die drankbedryf en minderjariges te verhoed. Geen werkgewer mag drank as 'n lokmiddel of as deel van vergoeding aan enige werknemer verskaf nie.
Die nuwe wet poog om alle moontlike skuiwergate wat nog uit die ou dopstelsel kan bestaan, toe te maak. Daarvolgens mag 'n werkgewer ook nie geld van 'n werknemer se loon aftrek vir drank wat namens hom gekoop of deur 'n derdeparty verskaf is nie.
Niemand onder die ouderdom van 16 jaar mag by die vervaardiging of verspreiding van drank betrek word nie en drank mag nie aan 'n minderjarige verkoop of verskaf word nie. Die enigste uitsonderings is met die bediening van 'n godsdienstige sakrament of waar 'n minderjarige 'n matige hoeveelheid drank, met die toestemming en onder die toesig van 'n ouer of voog, verbruik.
Beperkings word ook op drankadvertensies geplaas. Dit mag nie vals of misleidend wees nie en mag nie op minderjariges gemik word nie.
Die departement waarsku dat sekere lisensiehouers in die drankbedryf die wet sal oortree as hulle nie teen 10 November hul bestaande lisensies omgeskakel het nie. Ou lisensies vir die vervaardiging en verspreiding van drank moet binne 90 dae ingevolge die nuwe wetgewing omgeskakel word, anders verval dit.
Vervaardigers wie se lisensies omgeskakel moet word, is dié wat meer as 100 miljoen liter bier per jaar vervaardig, meer as 50 miljoen liter tradisionele bier, 4 miljoen liter wyn en 2 miljoen liter ander alkoholiese drank. Elke lisensiehouer wat drank versprei, se lisensie moet hernu word.
15 Oktober 2004
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24