Die Suid-Afrikaanse Droëvrugte Tegniese Dienste (DTD) het aansoek gedoen om sy wetlike maatreëls vir die volgende vier jaar te behou. Die huidige maatreëls dek die hou van rekords en opgawes, registrasie en die betaling van wetlike heffings.
Die Landboubemarkingsraad (LBR) meen dat die aangevraagde maatreëls met die wet vir die bemarking van landbouprodukte van 1996 ooreenstem. Die DTD verteenwoordig droëvrugteprodusente, die Suid-Afrikaanse verbruikersadviesorganisasie, die Suid-Afrikaanse werkersorganisasie en ontwikkelende landbou.
Die DTD het aansoek gedoen om heffings vir die nuwe periode vir rosyntjies met 1 sent van 4 sent/kg tot 5 sent/kg te vermeerder, terwyl appelkose, appels en perskes se voorgestelde heffings van 8 sent/kg tot 9 sent/kg verhoog is. Nektariens, pere en pruime se voorgestelde heffings is van die huidige 7 sent/kg tot 8 sent/kg verhoog.
Die voorgestelde heffings sal vir die finansiering van inligting en kommunikasie, navorsing en ontwikkeling, transformasie en opleiding, sowel as internasionale skakeling en administrasie gebruik word.
Die DTD meen dat die voorgestelde wetlike maatreëls nie voedselsekuriteit, werksgeleenthede of regverdige arbeidspraktyke ongunstig sal raak nie. Dié organisasie meen dat die maatreëls wel kompetisie in die droëvrugtebedryf sal verbeter en die algemene kapasiteit van dié bedryf sal steun. Die LBR sê daar is tans geen inligting wat die teendeel bewys nie.
Belanghebbendes in die droëvrugtebedryf kan kommentaar op skrif op die LBR se faksnommer, 012 341 1811/1911, stuur. Enige kommentaar moet die LBR voor of op 15 Augustus 2008 bereik.
29 Julie 2008