|
|
|
| Bygewerk: | 25 May 01:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 72% |
| Wind: |
Haglike boerderytoestande as gevolg van droogte en lae pryse kan boere in die Wes-Kaap noop om koringproduksie af te skaal of selfs te staak.
Mnr. Corwyn Botha, besturende direkteur van WPK, sê as dié toestande voortduur en boere word toenemend aan ongelyke mededinging onderwerp, is die gebied se koringprentjie maar donker. "As 'n mens net dink aan die massiewe afskaling wat hier kan plaasvind, wil 'n mens hoop dat daar 'n drastiese verandering sal kom in hoe die owerhede en ander betrokkenes ons produsente aan onregverdige mededinging blootstel."
"As ons die werksgeleenthede, die bemagtiging van permanente werkers en die invloed van koringproduksie op die totale ekonomie van ons streek in ag neem, is dit 'n té kosbare bedryf om net bloot teen die laagste invoerpryse af te speel. Ons weet dat ons boere geen subsidies ontvang en wel teen hoogs gesubsidieerde oorsese pryse moet meeding.
Afgesien van die droogte van die afgelope twee seisoene wat produksie geweldig geknou het, beleef produsente 'n ernstige prysprobleem as gevolg van die goedkoop invoer van koring. Botha sê die goedkoopste koring word van lande soos Argentinië ingevoer. Die koring is meestal van swakker gehalte as plaaslike koring en word gewoonlik saam met plaaslike koring ingemeng.
"Dit is teleurstellend dat koring daarvandaan deur die handel ingevoer word veral as 'n mens in ag neem dat die laer pryse wat vir daardie koring betaal word, nie tot 'n verlaging in broodpryse lei nie.
Argentynse koring is tans sowat R255 per ton goedkoper as harde rooi winterkoring wat van elders ingevoer kan word. "Dit is die minimum verskil wat ons produsente nodig het om nie 'n kontantverlies op koringproduksie te maak nie. Die huidige boerepryse is minder as R1 000 per ton en die beraamde regstreekse produksiekoste is ongeveer R1 300 per ton vir die regte soorte."
Omdat die Wes-Kaap by uitstek 'n winterreënstreek is, is daar nie veel alternatiewe vir koring nie.
Volgens Botha het alle plaaslike koringboere 'n paar jaar gelede ooreengekom om slegs die beste harde koringkultivars te verbou. Sekere kultivars is selfs van die telersprogramme verwyder om net die beste gehalte vir vermaling en bak hier te produseer. Ook dit het geen uitwerking op die prys van brood gehad nie.
Hy sê ten spyte van die grootste poging van samewerking deur boere om die beste vir Suid-Afrika te lewer, bly dit vir die handel om die goedkoopste na te jaag. " 'n Mens wonder of dit nie meer heilsaam vir ons land sal wees om eerder toegewyd op te tree en eerste ons plaaslike bedryf te versorg nie?"
In CRK se bedieningsgebied het boere klaar geoes en 59 000 ton sowat 60 % van die vorige seisoen se 100 000 ton gelewer. Volgens mnr. Chris Kruger, hoofbestuurder van produksie by CRK, was die gemiddelde opbrengs rondom 1,3 ton per hektaar. Hy sê Kaapse boere kan nou voerkoring teen 'n beter prys as B3-koring verkoop. "Dit is eintlik 'n ramp. Boere kry maar sowat R860 per ton vir B3-koring en tot R900 per ton vir voerkoring.
10 Desember 2004
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24