|
|
|
| Bygewerk: | 25 May 01:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 72% |
| Wind: |
Die verbouing van grane met weerstand teen sekere plae en bestandheid teen onkruiddoders maak plaagbestryding doeltreffender vir die boer. Dit kos hom ook heelwat minder om hierdie GM gewasse te plant as om die plae chemies te bestry, sê dieboer.
Insekte en onkruid kan 'n boer se graanoes erg laat krimp as hy dit nie doeltreffend bekamp nie. Ongelukkig is dit peperduur om hierdie siektes en plae met chemiese middels te bestry en vat dit 'n groot hap uit die boer se potensiële wins.
Jare lank het die boer geen ander keuse gehad as om chemiese bestryding in te span om onkruide te bekamp en insekskade aan die gewasse te beperk nie. Veral mielies het geweldig onder stronkboorder deurgeloop.
Die koms van genetiese ingryping waarmee dit moontlik is om 'n plant se samestelling geneties só te verander dat dit, byvoorbeeld, weerstand teen stronkboorders kan bied en heeltemal bestand teen onkruiddoder kan wees bied gelukkig nuwe alternatiewe vir die boere. Nou kan hulle met minder chemikalieë oor die weg kom.
Danksy genetiese modifikasie is hierdie GM-kultivars met gene toegerus wat die plant met weerstand teen onder meer stronkboorder toerus, terwyl 'n ander geen bestandheid teen onkruiddoder verseker.
Mnr. Gert Pretorius boer al dekades lank op die plaas Hendriksrust in die distrik Lichtenburg en het 'n deeglike studie van die verskillende metodes van plaagbestryding gemaak, hetsy chemies met 'n trekkerspuit en bespuiting met 'n vliegtuig of deur geneties modifikasie (GM) gewasse te verbou.
Hy het voorheen baie chemiese bespuitings met 'n vliegtuig laat doen, maar dit was vir hom te duur, gemeet aan bespuiting met 'n trekker. Die koste per hektaar het sowat R60 tot R70 bedra. As daar nie 'n vliegveld naby die plaas is nie en die vliegtuig moet ver vlieg om elke keer gifstof in te laai, is die koste nóg hoër.
Een ander uitweg is bespuiting met 'n trekkerspuit. Teen sowat R10/ha is dit goedkoper as met 'n vliegtuig en baie doeltreffend, maar dit het ook sy beperkings. 'n Probleem ontstaan dikwels as 'n boer nie baie goeie kennis van plae het nie. Dan kan dit gebeur dat hy te laat agterkom daar is 'n wurmplaag in sy mielieland. Teen die tyd dat hy die wurms opmerk, het die besmetting dalk al baie ver gevorder en is groot skade aan sy opbrengs onafwendbaar, al spuit hy ook onmiddelik. Dit gebeur, byvoorbeeld, wanneer stronkboorders reeds vanuit die pluim in die stamme of koppe inbeweeg het en nie meer met 'n kontakmiddel bekamp kan word nie.
Soms kortwiek reën die boer sodat hy nie met die trekker en gifspuit in die land kan ingaan nie, of die mielies is al te hoog.
Die boer kan soortgelyke probleme met die bestryding van onkruid hê, naamlik dat hy nie altyd met 'n trekker en skoffel in die land kan kom om te skoffel nie. Hande-arbeid werkers met handskoffels is dan 'n uitweg, maar dit is duur en tydrowend. Soveel arbeid is ook nie altyd beskikbaar nie.
Pretorius se raad is gevolglik om GM kultivars te plant. Saadmaatskappye teel diekultivars met groot kundigheid en teen baie hoë koste. Die saadmaatskappy Monsanto, waarvan Pretorius die voorsitter is, gee op diegebied die pas aan in die wêreld en het reeds talle mieliekultivars met weerstand teen bepaalde plae geteel, asook verskeie mielie- en sojaboonkultivars met RR-tegnologie.
Daar is verskeie onkruiddoders op die mark wat met groot welslae teen onkruide gebruik word, maar die probleem is dat dieselfde onkruiddoders ook bepaalde gewasse doodmaak. 'n Voorbeeld is dat dit grasse doodmaak en omdat mielies 'n lid van die grasfamilie is, kan hierdie gewas nie met onkruiddoder gespuit word nie.
Die maatskappy het toe kultivars met 'n geen geteel wat dit bestandheid teen 'n bepaalde onkruiddoder, Roundup Ready (RR), gee. Hulle het ook kultivars met weerstand teen mieliestronkboorder geteel (YieldGard-kultivars).
Hierdie GM kultivars word ontwikkel uit bestaande kultivars waarmee boere hoë opbrengste behaal deur die betrokke GM gene daarin te plaas. Nou kan die boer hierdie kultivars plant en die onkruide dan met Roundup Ready bespuit.
Dit is in hierdie opsig wat Pretorius, wat akkurate koste-ontledings gedoen het, waardevolle raad vir ander boere het. Volgens hom is dit goedkoper om GM kultivars te plant as om chemiese plaagbestryding toe te pas, al is hierdie GM kultivars se saad relatief duur weens die hoë koste van sulke navorsing en van plantteelt. Die boer betaal dus 'n tegnologiegeld as hy hierdie saad koop.
Pretorius kan met gesag syfers oor chemiese bespuiting verskaf en dit met die koste van die gebruik van GM kultivars vergelyk, aangesien hy al hierdie metodes reeds in sy groot graanboerdery toegepas het.
Bygaande tabelle, wat met behulp van 'n rekenaarprogram van die maatskappy opgestel is, dui haarfyn aan wat die verskil in koste en doeltreffendheid van chemiese bespuitings en GM gewasse (in hierdie geval YieldGard) behels. Dit is van toepassing op mielies wat vroeg of laat in die seisoen geplant word en dus feitlik verseker deur 'n wurmplaag besmet sal word.
Bepaalde aannames word in die berekening gemaak. Die veranderlikes is die volgende:
Die koste van chemiese bestryding teenoor 100 % doeltreffende bestryding is die volgende:
Die koste van YieldGard is soos volg:
Gevolglik kos dit die boer uiteindelik R274,39/ha minder as hy YieldGard-mielies plant, eerder as om hom op chemiese plaagbestryding te verlaat.
Tabel 1 dui aan wat die boer se geldelike voordeel is as hy YieldGard bo chemiese bestryding verkies. Indien hy, byvoorbeeld, 'n doeltreffendheid van 60 % met 'n normale chemiese spuitprogram sou behaal, en sy opbrengsverlies sou 20 % beloop, sal die kostevoordeel van YieldGard-mielies teenoor chemiese bestryding R445,82 bedra. Indien hy dit sou regkry om 100 % doeltreffende chemiese bestryding toe te pas, sou dit hom R34,18/ha minder gekos het as om YieldGard-tegnologie te gebruik. Só 'n hoë vlak van doeltreffendheid is egter onmoontlik, soos enige boer sal kan getuig.
Tabel 2 dui aan hoeveel meer geld die boer in sy sak kan steek as hy YieldGard-mielies gebruik. Die tabel bevat verskillende kombinasies opbrengste en plantestand.
Pretorius sê hy raai boere egter nie aan om slegs GM gewasse te verbou nie. Baie vroeë en laat mielie-aanplantings word in alle produksiegebiede deur stronkboorder aangeval, maar daar is sekere tye tussenin wat stronkboorder nie altyd 'n plaag is nie. As boere in hierdie tye plant, is GM kultivars dus nie noodsaaklik nie. As hulle egter net vroeg of laat kan plant, bewys sy syfers dat dit beter is om GM kultivars te verbou. Op Pretorius se plaas het hy in die algemeen nie probleme met stronkboorder as hy vanaf laat November mielies plant nie.
Sy raad is dat 'n boer minstens 'n derde van sy mieliegrond met YieldGard-mielies moet plant. Dit pas in by sy eie plantprogram, wat hy oor 'n tydperk van 'n maand versprei, sodat hy nie kortgroeiers hoef te plant nie. Hy verkies lang en mediumgroeiers, wat by hom 'n hoër opbrengs het. Dit is hoekom hy hom vir 'n langer planttydperk voorberei. Al wanneer hy kortgroeiers oorweeg, is as hy weens te min reën eers in Januarie kan plant.
Kortom: Die GM gewasse se voordeel is dat die boer nie met die hande in die hare sit as hy wurms in sy mielies ontdek en hy kan weens nat lande nie chemiese bespuiting doen nie.
'n Ander manier is om 'n vliegtuig te gebruik, maar weens die kosteknyptang waarin graanboere vasgevang is, is hierdie hoër koste nie iets wat die boer wil oorweeg nie.
Selfs die toediening van 'n chemiese middel met die hand is dan nie die moeite werd nie, want die korrelgif moet fisiek in elke besmette mielieplant se kelk ingegooi word en die boer het nie noodwendig soveel arbeid beskikbaar nie, sê Pretorius.
10 September 2004
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24