Agriwiki

Trekkerwerf

Hunter & Jagter

Farming SA

E-pos foto's aan ons

Wenke vir foto's

Deur LIEZL VERCUEIL

Jy kan enige foto instuur wat jy met Landbou.com-lesers wil deel. Ons gee voorkeur aan landboufoto's en natuurfoto's. Foto's wat aanvaar word, word op die fotogalery gepubliseer.

Samestelling

Die samestelling van 'n foto verwys na hoe die verskillende elemente in die foto teenoor mekaar gerangskik is. Eenvoud is hier belangrik. Neem een onderwerp af en onthou om mooi te fokus.

'n Oomblik in tyd

Gelukskote is meeste van die tyd goed beplan en verg soms geduld, veral in die geval van natuurfoto's. Neem meer as een foto as jy 'n interessante onderwerp vind. Jy kan ook jou foto uit verskillende hoeke neem. Dit maak die foto meer interessant en gee 'n nuwe perspektief.

Lig

Die gehalte van die lig het 'n beduidende uitwerking op foto's en baie skerp lig maak dit moeilik om van donker skaduwees ontslae te raak. Die beste tyd van die dag om foto's te neem is in die oggend of laatmiddag - vermy die middel van die dag indien moontlik. Maak seker dat die lig nie per ongeluk van agter jou onderwerp skyn nie - dit sal veroorsaak dat jy nie veel detail kan sien nie.

Tegnies

Die aanvang van digitale fotografie het die tegniese aspekte van dié tydverdryf verander. Die oorgrote meerderheid van kameras kan outomaties aanpas om lig te lees en die regte balans en fokus te vind. Gebruik dié funksie totdat jy meer selfvertroue het.

Digitale manipulasie

Ons wil nie digitaal-gemanipuleerde foto's gebruik nie. Dit kan as 'n vorm van vervalsing beskou word. Die aanpassing van kontras of om die foto skerper te maak word nie as manipulasie gesien nie, maar die byvoeging of verwydering van elemente in die foto word as manipulasie beskou.

Grootte van foto's

'n Maksimum van 5MB omdat die foto per e-pos versend word.

Lekker skiet!

Die e-pos-adres waarheen jy jou foto moet stuur, is foto@landbou.com, of klik hier om dit te stuur. Verskaf ook jou naam en van in die e-pos-boodskap, as ook 'n byskrif (kort beskrywing).