|
|
|
| Bygewerk: | 25 May 01:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 72% |
| Wind: |
As die produksie van etanol in Suid-Afrika binne die afsienbare toekoms 'n werklikheid word, sal kultivars vir hul geskiktheid vir die produksie daarvan met die samestelling van 'n kultivarpakket oorweeg moet word, sê Pannar Saad se besturende direkteur, mnr. Deon van Rooyen.
Hy maan teen impulsiewe besluite. "Ondervinding in Amerika het geleer sekere kultivars is meer geskik vir die produksie van etanol as ander. Dit is egter belangrik om deursigtigheid te behou en nie outomaties die ander belangrike (en dikwels kritieke) kultivareienskappe oorboord te gooi ten gunste van 'n hoër fermenteerbare styselinhoud nie.
" 'n Kultivar wat vir die produksie van etanol geskik is, kan dalk nie altyd die mas opkom in spesifieke groeitoestande nie en dit kan die boer duur te staan kom. 'n Aangepaste kultivar met 'n goeie opbrengs, maar 'n relatief laer geskiktheid vir die produksie van etanol, kan egter steeds vir die produksie van etanol gebruik word."
Hy meen dit is veral belangrik met die aanvang van só 'n projek dat boere versigtig moet wees met die samestelling van 'n kultivarpakket, aangesien die vervaardigingsvermoë van etnanol dan nog redelik beperk is. Soos die vraag na etanol toeneem en die produksie verhoog, word verwag dat al hoe meer 'geskikte', maar ook goed aangepaste kultivars bekend gestel sal word.
"Dit is vir Pannar net so belangrik dat die inisiatief met betrekking tot biodiesel en etanol suksesvol deurgevoer word. Pannar ondersteun hierdie projek ten volle.'' Pannar was 'n medeborg van die onlangse besoek van Graan SA na Europa en Amerika.
Volgens Van Rooyen wil Pannar verseker dat 'n hoër fermenteerbare styselinhoud in Suid-Afrikaanse produkte se teelmateriaal voorkom."
In Amerika word etanol reeds 'n geruime tyd lank as 'n aanvullende brandstofbron gebruik. Daar word beraam dat tot soveel as 20 % van die Amerikaanse mielie-oes teen die jaar 2015 vir die produksie van etanol bestem sal wees. Die tegnologie vir die produksie van etanol in dié land is goed ontwikkel. ''Etanolaanlegte skiet soos paddastoele in die vernaamste mieliegebiede op,'' het Van Rooyen gesê.
"Pannar is reeds gerat om 'n toonaangewende rol in die voorsiening van geskikte kultivars te speel. Dié maatskappy se betrokkenheid in Amerika plaas hom in 'n goeie posisie om aan die voorpunt van tegnologiese ontwikkeling in die etanolbedryf te bly.
"Terselfdertyd stel dit ons in staat om deurlopend die nuutste kennis en inligting met betrekking tot geskikte kultivars asook ander inligting oor die produksie van etanol met Suid-Afrikaanse boere uit te ruil."
17 Junie 2005
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24