Vraag:
Ek boer tans in die Karoo en soek raad oor hoe boere hulle berekenings maak om hulle grondpryse te bepaal. Ek het nou al my duim gesuig om pryse te bepaal, maar geen antwoorde gekry nie. Ek wil vreeslik graag uitbrei maar tans is die pryse van grond van so ’n aard dat dit ’n swak belegging is.
Aangesien die meeste van ons afhanklik is van die banke moet ons noodwendig skuld maak om grond te koop. As ek skuld gaan maak is daar nie ’n manier hoe ek my verpligtinge kan nakom om die bank terug te betaal nie.
Ek neem die huidige hoë vleispryse in berekening. As ek ’n besigheid in die stad gaan koop is daar tog ’n norm waarvolgens die besigheid se prys bepaal word.
Die wins wat die besigheid maandeliks maak is die bepalende faktor waarvolgens dit verkoop moet word. In boerdery is daar nie so ’n norm nie. In ons land is die norm vir grondpryse, waarvoor is die laaste plaas verkoop in ons omgewing. Tans is die kopers buitelanders of iemand uit die stad.
Die mense koop nie grond om te boer nie. Hy koop net die grond om een of twee keer ’n jaar te kom jag en met sy pelle te spog hy het ’n plaas in die Karoo. Boere koop nie meer plase nie. Die regering het ook nou al ’n paar plase hier gekoop en hopeloos te veel vir swak grond betaal.
Ek kry net die gevoel ons is besig om ons eie kele af te sny met grondpryse. Ons dwing die regering om wetgewing te maak om grondpryse volgens sekere formule te bepaal. Ons kan nie grond in die mark sit net vir buitelanders en sakemanne om dit te koop nie. Julle bewerkstellig ons eie ondergang.
As die regering ’n stokkie voor alles gaan steek dan is ons kwaad. Sal die mense wat sê hulle is slim vir my ’n antwoord gee asb? Ek maak seker my somme verkeerd! Drakrag in ons omgewing is 1:32 GVE.