|
|
|
| Bygewerk: | 25 May 01:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 72% |
| Wind: |
Onderhandelingspartye in die landbou se vertrekpunte is nie noodwendig dieselfde nie. Dit kan nie aanvaar word dat verskillende groepe mekaar se situasies en denkrigtings sonder meer verstaan nie, het mnr. Hans van der Merwe, uitvoerende direkteur van Agri SA, op 'n inligtingsvergadering in die Paarl gesê.
"Dikwels word oor dieselfde ding gepraat en al dink albei partye hul het dieselfde sakelys, word verby mekaar gepraat en wrywing ontstaan só. In 'n onlangse vergadering tussen Agri SA en die SA Kommunistiese Party was dit verstommend om te sien hóé verkeerd van hul inligting oor die landbou is. Hoe gaan die landbou vriende maak as ander partye met wie gesels word, se indrukke en inligting só onakkuraat is," het Van der Merwe gevra.
"Die algemene indruk is dat alle kommersiële boere ryk is. Hoe kan daar egter gedink word dat tot 40 % van die bevolking in welvaart wil leef as kommersiële boere net 4 % van die land se bruto binnelandse produk genereer? Die waarheid is dat daar tans 127 boerdery-eenhede per maand tot niet gaan."
Volgens Van der Merwe gaan die Regering se doelwitte met die landbou nie deur gewone herverdeling van grond behaal word nie. "Die mark sal dit nie toelaat nie."
Oor moontlike integrasie tussen landbou-organisasies, soos Agri SA, die TLU SA en die National African Farmers' Union (Nafu), sê Van der Merwe dat Nafu fokus op opkomende boere, hoewel talle van sy lede as kommersiële boere ten volle deur Agri SA se dienste ondersteun word. Nafu het egter laat blyk hy wil 'n afsonderlike organisasie bly tot grondhervorming afgehandel is.
Mnr. Johan Keller, ondervoorsitter van Agri Wes-Kaap se algemene sakekamer, sê 'n verteenwoordigende forum waar die verskillende landbou-organisasies verteenwoordiging het en elk in eie reg kan gesprek voer, is iets waarna gekyk kan word.
Van der Merwe het egter gewaarsku dat 'n vennoot net van waarde is as hy jou hand sterk. Hy sê verskillende doelwitte en strewes bestaan by die verskillende landbou-organisasies. "Dit blyk duidelik dat as 'n bietjie vergeet word van politiek en net op praktiese aspekte gefokus word, sal talle brúe oorkom kan word.
"Agri SA het opbouende gesprekke met die TLU SA aan die gang oor AgriSEB. Ons probeer kyk of daar wesenlike verskille bestaan."
13 Mei 2005
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24