Die soektog na geskikte vennote vir swart ekonomiese bemagtiging (SEB) by Foskor is pas deur dié fosfaatreus en die IDC, voorheen bekend as die Nywerheidsontwikkelingskorporasie, begin.
Die IDC besit 97,6% van Foskor, terwyl die res aan Coromandel, 'n Indiese kunsmismaatskappy, behoort. Volgens me. Taryn Wulfsohn, 'n woordvoerder van die IDC, sal die aandeelhouding ná die sluiting van die SEB-transaksie soos volg lyk: Die SEB-vennote sal 26% besit, Coromandel 15% en die oorblywende 59% sal aan die IDC behoort.
Daarmee gee die IDC die eerste tree om Foskor in openbare hande te plaas. Na 'n boekjaar met ongeëwenaarde groei word Foskor se huidige waarde op R9,5 miljard beraam. Die SEB-transaksie sal 'n geskatte waarde van ongeveer R2,5 miljard hê. Wulfsohn wou egter nie hierdie syfer bevestig of betwis nie.
Tans is daar egter geen SEB-vennote nie. Aansoeke word per tender gehanteer om te verseker dat alle belangstellendes die geleentheid het om deel te neem. Veral mense in Foskor se operasionele gebied - Phalaborwa en Richardsbaai - word genooi om aansoek om SEB-aandele te doen.
Landbouweekblad, 17 Oktober 2008