Garingboom-witblits dalk na Kanada

 

Suid-Afrikaanse Agave, die eweknie van die bekende Mexikaanse drankie Tequila, mag dalk binnekort ook in Kanada beskikbaar wees. Dit volg nadat 'n kontrak onlangs beding is om 13 500 liter Agave per maand na Brittanje en Europa uit te voer.

Mnr. Keith McLachlan, voorsitter van die Agave Distillers op Graaff-Reinet, sê die produk wat van die blou Agave Americana (garingbome) vervaardig word, is nou verwant aan die blou Agave Weber, waarvan Tequila in Mexiko gemaak word. Agave mag egter nie as "Tequila" bemark word nie omdat die benaming ingevolge die internasionale reëls van oorsprong net deur Mexiko gebruik mag word.

McLachlan sê daar word beplan om vanjaar 500 000 liter van die produk te vervaardig. "Ons glo dat Suid-Afrika in die volgende vyf tot tien jaar 'n groter speler in die internasionale mark kan word wat met die Mexikaanse produk kan meeding."

Hy het Vancouver, Los Angeles en Houston besoek om vennootskappe vir die bedinging van uitvoerkontrakte te soek.

11 Februarie 2005

0