Gemeenskappe na hof oor kommunale regte

 

Vier gemeenskappe in Mpumalanga, Limpopo en Noordwes gaan die grondwetlikheid van die Wet op Kommunale Grondregte in die hof betwis.

Die landelike gemeenskappe van Kalkfontein en Dixie in Mpumalanga, Makuleke in Limpopo en Makgobistad in Noordwes voer aan dat die verkeerde parlementêre prosedure onder meer gevolg is met die bepaling van dié wet. Hulle meen dat die wet teenstrydig is met die bepalings vir verblyfsekerheid en geslagsgelykheid in die Handves van Menseregte en dat dit voorsiening maak vir 'n vierde vlak van regering — iets wat nie deur die Grondwet toegelaat word nie.

Verder redeneer hulle dat die wet, wat veronderstel is om groter sekerheid aan grondregte in die kommunale gebiede te gee, dit eerder meer onseker maak vir sekere groepe, soos ongetroude of geskeide vroue.

In hul aansoek by die Transvaalse divisie van die Hoër Hof se word dié gemeenskappe bygestaan deur die Sentrum vir Regshulpbronne en die prokureursfirma Webber Wentzel Bowens.

Die respondente is die Minister van Landbou en Grondsake, die Minister van Provinsiale en Plaaslike Regering, premiers van alle provinsies, die speaker van die volksraad en die voorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies.

Die wet is in 2004 op kontroversiële manier kort voor die algemene verkiesing deur die Parlement aanvaar. Volgens me. Janet Love, nasionale direkteur van die Sentrum vir Regshulpbronne, is die wet wat grondeienaarskap in die kommunale gebiede reël, ter elfder ure verander om verreikende mag oor kommunale grond aan tradisionele rade te verleen.

Volgens syfers wat deur die Departement van Grondsake bekend gestel is, woon meer as 21 miljoen mense — talle van hulle is baie arm — in die kommunale gebiede.

12 Mei 2006

0