Gesoek: SA boere vir Kongo

 

Die Republiek van die Kongo - nie die Demokratiese Republiek van die Kongo nie - nooi Suid-Afrikaanse boere om te help om 'n groot en georganiseerde landboubedryf in dié land te vestig. Verteenwoordigers van die Kongolese regering het verlede week in Pretoria aan Agri SA gesê hulle sal goed kyk na Suid-Afrikaanse boere wat besluit om in die Kongo te kom boer.

Die Kongo is op soek na 100 of meer ywerige boere om op plase te boer wat amper verniet uitgedeel gaan word. "Indiese en Chinese boere is ook oorweeg, maar die Kongolese regering meen Suid-Afrikaanse boere het eerder 'n aanvoeling vir Afrika en dat die Kongolese beter met Suid-Afrikaanse boere oor die weg sal kom. Die Kongolese regering voer tans feitlik alle landbouprodukte ten duurste van Frankryk af in en die gehalte van dié produkte is baie swak. Die oogmerk is om soveel van dié landbouprodukte plaaslik te produseer en om die algehele ontvolking van die platteland teen te werk," sê dr. Theo de Jager, ondervoorsitter van Agri SA.

Die Kongo stel in boere belang wat met mielies, sonneblomme, rys, suikerriet, groente, subtropiese vrugte, bokke en beeste boer. Bosbouers is ook welkom. Belangstellendes kan 'n faks na 086 672 6588 of e-pos na cdpalms@mweb.co.za stuur.

Bron:

Rapport

26 Januarie 2009

0