|
|
|
| Bygewerk: | 25 May 15:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 88% |
| Wind: |
Die Regering sal nooit sy doelwitte haal sonder die landbou nie. "Ons wil deel wees van die proses. Ons sal ons beste doen," het mnr. Neels Ferreira, nuut verkose voorsitter van Graan SA, in sy eerste toespraak in dié hoedanigheid gesê.
Ferreira, voorheen ondervoorsitter, en die nuwe ondervoorsitter, mnr. Louw Steytler, is eenparig op verlede week se kongres op Bothaville verkies.
Ferreira sê een van sy eerste voorrangsake sal wees om die beeld van dié organisasie en sy geloofwaardigheid te bevorder.
Volgens hom sal gesprekke aangeknoop word met ander belanghebbendes in die graanbedryf wat "ongefundeerde uitsprake" maak. Sonder om 'n bepaalde groep by naam te noem, het hy gesê daar is geen rede om inligting te betwyfel nie en dat só chaos geskep word.
Hy gaan hom ook daarop toespit om invoertariewe ingestel te kry. Dit kan gedoen word deur groter skakeling met die Departement van Handel en Nywerheid. "Ons probeer al drie jaar lank om met die departement te onderhandel. Tog word ons telkens deur die departement verseker dat die deur nie toe is vir die landbou nie."
Nóg 'n fokuspunt vir die nuwe voorsitter gaan eenheid binne die landbou wees. Ferreira sê "die landbou moet uit een mond praat". Volgens hom het die georganiseerde landbou verlede jaar op die laaste presidensiële werkgroepvergadering groot welslae behaal toe die verskeie landbou-organisasies dieselfde boodskap aan pres. Thabo Mbeki oorgedra het.
Volgens Ferreira is Graan SA 'n vrywillige organisasie en só 'n organisasie kan nie sonder sy lede bestaan nie. Dit is daarom belangrik dat insette van grondvlak moet kom, het hy gesê. "Graan Suid-Afrika is daar om die kommersiële boer op sy plaas te hou. Ons moet dit nooit vergeet nie. As die man groter word as die saak, raak dan asseblief onmiddellik ontslae van my," het hy gesê.
17 Maart 2006
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24