Graanboere kry etanol-keuse

 

Graanboere gaan individueel inligting oor die vervaardiging van etanol uit mielies ontvang, waarna hulle sal moet aandui of hulle mielies daarvoor beskikbaar gaan stel of nie.

Op die laaste dag van Graan SA se kongres is daar op hierdie werkswyse besluit nadat 'n warm debat oor die haalbaarheid van etanolproduksie opnuut in 'n wegbreeksessie vir mielieboere gevoer is. Die vestiging van 'n etanolbedryf hang grootliks daarvan af of graanboere almal gaan saamwerk en 3 miljoen ton mielies as sekuriteit vir die finansiering van aanlegte beskikbaar gaan stel.

Mnr. Johan Hoffman, lid van 'n ondersoekkomitee na dié projek, sê daar was nog nooit iets wat só 'n goeie oplossing aan mielieboere bied nie. "Die te stigte maatskappy, Ethanol Africa, sal nie 'n landboumaatskappy wees nie, maar die toekomstige Sasol van die wêreld." Hy sê die alternatief is dat boere tot 8 jaar lank met surplusse en lae pryse opgeskeep gaan wees.

Daar is reeds met finansiële instellings onderhandel en 'n volledige sakeplan is gereed. Daar is ook boere wat gereed is om kontrakte te teken. Dié kontrakte sal van krag word sodra 'n mikpunt van 2 miljoen mielies bereik word.

Hy het gereageer op 'n opmerking deur mnr. Josef du Plessis van Schweizer-Reneke dat dit vir hom na 'n uitvoerpoel in verskuilde vorm klink. "Sommige boere gaan dit doen en ander nie. Boere, ondernemings en aandele is in elk geval drie woorde wat nie lekker by mekaar pas nie. Wat my ook pla, is hoekom niemand dit nog gedoen het as dit dan só belowend lyk nie."

Mnr. Bully Botma het gesê as die projek nie gesteun word nie, moet dit laat vaar word "sodat die ekonomie ons uitsorteer". Die verwagte oordragvoorraad sal sowat 4,745 miljoen ton wees. Hierdie oordragvoorraad moet weg, al word dit in die see gegooi, het hy gesê.

Volgens mnr. Nico Hawkins, senior ekonoom by Graan SA, is daar reeds ernstige kommer oor die opberging van graan. "Daar sal groot planne gemaak moet word om bergplek vir surplusvoorrade te vind."

25 Maart

0