|
|
|
| Bygewerk: | 25 May 16:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 88% |
| Wind: |
Hoe kry 'n man soos die voorsitter van Agri Suid-Afrika, te midde van sy bedrywige lewe in die georganiseerde landbou, ook kans om te boer? Deur deeglike beplanning en kontrolering boer hy dermate vooruit dat hy nou 'n finalis vir Graanprodusent van die Jaar is.
Voorsitter van Suid-Afrika se grootste landbou-unie. Voorsitter van een van die grootste landboumaatskappye. Tussenin voorsitter, hoofbestuurslid of gewone lid van 'n hele klomp organisasies, verenigings en maatskappye.
En aan die "onderpunt": Sekretaris van Vierfontein se boerevereniging. Tyd vir almal, van die grootste organisasie tot sy eie bure.
Dít is mnr. Japie Grobler, boer van die plaas Karookom in die distrik Vierfontein, een van die drie finaliste vir Graan SA se groot wedstryd, waarvan 2004 se wenner op 15 Oktober op Bothaville aangewys word.
'n Mens kan nie anders nie om met die deur in die huis te val: Hoe op aarde kry jy dit reg om 'n suksesvolle boerdery te bedryf as die georganiseerde landbou so baie tyd verg?
Want kyk wat hou hom besig (en dit is net 'n haastige opsomming weens 'n gebrek aan genoeg ruimte in Landbouweekblad:
Grobler het sy eerste beskeie tree in die georganiseerde landbou in 1977 gegee toe hy begin boer het. Hy het onverwyld by Vierfontein se boerevereniging aangesluit en is dadelik as sekretaris gekies. Daarna was daar nooit kans vir omkyk nie en het hy ál hoër en meer poste beklee.
Hy was al in 1979 'n hoofbestuurslid van Sampi en daarna Nampo (Graan SA se voorgangers), is in 1985 as dagbestuurslid van Nampo aangewys, in 1987 as voorsitter van die Nampo-Oesdagkomitee, in 1992 as ondervoorsitter van die Vrystaatse Landbou-unie en direkteur van Sentraalwes-koöperasie, in 1993 as ondervoorsitter van Nampo en in 1996 as voorsitter van Nampo en ondervoorsitter van die SA Landbou-unie.
In 1998 het hy voorsitter van die Mielietrust geword, in 1999 voorsitter van die Graanprodusente-organisasie toe die verskillende graanbedrywe saamgesmelt het. Met Graan SA se totstandkoming uit hierdie liggaam in 2000 is hy ook in dié voorsitterstoel sitgemaak. Toe hy daardie jaar as voorsitter by Graan SA uittree, is hy as voorsitter van Agri SA aangewys.
Tans is Grobler president van Agri SA, voorsitter van Senwes, Senwesbel en die Agri Securitas-trustfonds, lid van die Mielienavorsingstrust, lid van die Mielieraad, ouderling van sy kerk, lid van die manna-studiegroep, sekretaris van Vierfontein se boerevereniging, lid van Viljoenskroon se distriksboere-unie en lid van Vrystaat Landbou.
Die vraag is weer: Hoe kom hy by sy boerderybelange uit?
Sy antwoord: "Pas by omstandighede aan en moet nooit beheer verloor nie."
Wyer gestel: Grobler beskou sy wisselboustelsel as die sleutel tot sy sukses. Sonder die regte mense sal alles egter verniet wees. En dan moet hy reg beplan en reg bestuur en deurentyd kontak met die boerdery hou.
Gesels 'n mens verder, kom jy agter hoe weldeurdag sy beplanning, bestuur en kontak met sy boerdery werklik is.
Beplanning en kontrolering van elke werker se dagtaak is die sleutel tot sy sukses wat verseker dat hy altyd weet hoe alles op die plaas verloop. Grobler en sy personeel beplan elke middag die volgende dag se take volledig en skriftelik.
Of hy nou op die plaas is, in 'n stad, op die verste uithoeke van die land of selfs in die buiteland, word hierdie taak nooit afgeskeep nie. Sy drie bestuurders doen smiddae hul beplanning. As hulle laat met hul werk klaar gekry het, doen hulle dit die aand, maar oorhou vir die volgende oggend? Nooit!
Hulle moet ook die dag wat verby is se werk skriftelik opsom, wat elkeen se boerderysektor daardie dag gedoen het. Dit behels onder meer 'n lys van al die werkers, waarin verslag oor elkeen se dagtaak gedoen word.
Dan bel hulle elkeen vir Grobler en doen verslag. Dus weet hy aan die einde van elke dag wat op die plaas gedoen is en wat die volgende dag gaan gebeur.
As hy hom in 'n wêrelddeel begeef wat in 'n gans en al ander tydsone is, gee hulle die verslag oor hul doen en late en die vooruitbeplanning die volgende oggend vroeg vir die sekretaresse, mev. Maggie Jansen. Sy e-pos dan hierdie inligting vir Grobler. Hy kry dit dus so 'n halfdag later as gewoonlik, maar kan steeds sy vinger op die boerdery se pols hou.
Grobler reis altyd met 'n volledige stel plaasbegrotings in sy aktetas. Hy het dus besonderhede van elke plaas se vooruitbeplanning. Dit bevat inligting oor blokgroottes, volledige besonderhede van die vorige vyf jaar se wisselbou, oesgroottes, reënval, watter saad geplant en kunsmis toegedien is, die pryse wat hy gekry het, en veel meer.
Soos hy sy verslae van die bestuurders ontvang, werk hy hierdie plaasbegrotings by. Dit dien terselfdertyd as 'n volledige boerderystaat vir elke blok en elke plaas. "Ek kan vyf jaar en verder teruggaan in hierdie state en jou presies vertel wat elke werker op 'n sekere dag gedoen het."
Hy teken op hierdie wyse ook besonderhede aan van elke voertuig en trekker, van afstandmeters en ure diens gedoen, tot onderhoud en herstelwerk.
Die verslae en aantekeninge oor die vee-afdeling is net so omvangryk. Elke Vrydag word al die skape en beeste getel en besonderhede van kalwers en lammers wat gebore is, word aangeteken.
Hoewel Grobler baie nou by die beplanning en bestuur van elke boerderysektor betrokke is, stel hy die begrotings nie alleen op nie. Hy en sy bestuurders vergader daaroor en besluit saam oor elke plaas se begrotings.
Hulle vergader ook gereeld oor produksiemiddele, byvoorbeeld om oor saad en kunsmis te besluit en bestellings te plaas. In hierdie opsig is sy noue betrokkenheid by die georganiseerde landbou 'n voordeel, want hy is altyd op die hoogte van die nuutste ontwikkelings en neigings. Hy kan dus betyds optree, soos hierdie seisoen toe hy besluit het om 500 ha meer sonneblomme te plant omdat dit uit nasionale en internasionale neigings blyk dat hierdie kommoditeit aan die groei is, in teenstelling met byvoorbeeld wit mielies, wat hy nou afskaal om meer grond aan sonneblomme af te staan.
Hy beskou homself nie noodwendig as 'n beter boer met beter boerderyplanne as die ander nie, maar doen sy beplanning en kontrolering deeglik en laat nooit toe dat 'n dagtaak tot die volgende dag oorstaan nie.
"Ek moet kompenseer, anders sal ek nie in die boerdery kan oorleef nie, want ek is mos nie elke dag op die plaas nie." Só is Grobler altyd "by" sy boerdery.
Geen klein boerdery
Mnr. Japie Grobler het eers die grade B.Juris en LL.B. aan die Potchefstroomse Universiteit verwerf voordat hy in 1977 saam met sy pa begin boer het. Vandag, 27 jaar later, het hy uitgebreide boerderybelange op plase in die distrikte Vierfontein, Bothaville en Vredefort.
Hy ploeg bykans 4 000 ha vir sy kontantgewasse. Die afgelope jaar het sy aanplantings uit die volgende bestaan: mielies (2 421 ha), koring (522 ha), sonneblom (902 ha) en grondbone (96 ha).
Hy het ook 9 332 ha natuurlike weidings en 361 ha aangeplante weidings (Smutsvingergras) vir sy kommersiële Simmentaler x Brahman-beeste vir speenkalfproduksie, en SA Vleismerino's vir wol- en vleisproduksie.
Een en ander oor sy boerderypraktyke:
Sy eie plase is alles gekarteer. Hy neem elke twee jaar grondmonsters van sy lande om die grondsuurheid (pH) te monitor en vas te stel hoeveel residuele plantvoedingstowwe in die grond is. Dit speel 'n rol by die vasstelling van elke land se maksimum opbrengspotensiaal, tesame met onder meer die opbrengsgeskiedenis. Die lande kry elke jaar kalk om die pH so na moontlik aan 5,5 KCl te hou.
Grondbewerking is gegrond op vogbewaring deur stoppel- of minimumbewerking te doen, asook die ophef van verdigtingslae deur die beginsel van rip-op-ry. Hierdie praktyke beperk wind-erosie op die sandgrond.
Alle bewerkingspraktyke is daarop ingestel om die getal bewegings oor die lande tot die minimum te beperk ter wille van die besparing van diesel en om grondverdigting te beperk.
Grobler pas wisselbou toe met mielies, koring, sonneblomme en grondbone. Vir sy kultivarseleksie neem hy saadverskaffers se proewe en ook die bestendigheid van verskillende kultivars in ag.
In die veeboerdery pas hy wisselbeweiding op die natuurlike weiveld toe deur drukbeweiding te doen en die diere elke 14 dae na 'n ander kamp te verskuif. Hy is besig om sy aangeplante weiding (slegs Smutsvingergras) uit te brei.
Grobler het tans 46 vaste werkers in sy diens. Hul omset was die afgelope jaar net 0,02 %. Hy het 'n stel plaasreëls, wat op die werkers se dienskontrakte verskyn, en het 'n grieweprosedure en tugkode en -prosedure wat toegepas word. Die boerdery het 'n werkerkomitee van vyf lede wat probleme ondersoek en dit met Grobler bespreek as hulle dit nie self kan oplos nie.
Beslis nie 'n klein boerdery nie, veral nie as 'n mens na sy omvangryke betrokkenheid by die georganiseerde landbou kyk nie.
Dié profeet wel geëer
Hier is 'n profeet wat beslis in sy eie vaderland geëer word en sy harde werk vir die Suid-Afrikaanse landbou gaan nie ongesiens verby nie.
Mnr. Japie Grobler was in 1987 Junior Mielieman ('n toekenning van Graan SA se voorganger-organisasie, Nampo), in 1993 finalis vir Mielieman van die Jaar (nou bekend as Graanprodusent van die Jaar) en in 1998 Boer van die Jaar in die Landbouskrywersvereniging van Suid-Afrika se Sentrale Streek.
Hy het al oorkondes van onder meer Agri SA, Graan SA, die Nasionale Oliesadekomitee, Vrystaat Landbou, die distriksboerevereniging Viljoenskroon en Vierfontein se boerevereniging ontvang.
Hy som hierdie onbaatsugtige diens op deur te sê dit gaan nooit oor sy eie posisie nie. Hy help graag sover hy kan. Dié dat hy onlangs die pos van sekretaris van sy boerevereniging aanvaar het, 'n pos wat hy ook van 1977 tot 1980 beklee het toe hy begin boer het.
Landbou het goeie toekoms
"Ons land is anders as die res van Afrika; hou dus op om ons met die ander te vergelyk." Só som mnr. Japie Grobler die Suid-Afrikaanse landbou se toekoms op.
Hy sê ook: "Ons het 'n voordeel bo ander Afrikalande. Ons het 'n amptelike landbouplan en 'n Minister van Landbou wat erns het met die landbou." Nóg voordele is Suid-Afrika se goeie landboukorps en die baie jong manne wat terugkeer na die landbou.
Grobler sê in 1994, knap voor die eerste demokratiese verkiesing, was daar baie doemprofete wat die einde van die landbou verkondig het. Vandag spog die land met 'n uiters goeie landbousektor. Nou is daar weer doemprofete wat dit teen grondhervorming en AgriBEE (die landbou se plan vir swart bemagtiging) het, maar oor vier jaar sal die mense weer sê: AgriBEE is suksesvol in werking gestel.
Hy glo die landbou het 'n goeie toekoms. Dit is hoekom hy onlangs nog grond gekoop het.
Grobler brei op drie groot uitdagings vir die plaaslike landbou uit, naamlik nuwe markte, risikoversekering en swart bemagtiging.
Suid-Afrika moet sorg dat hy nuwe geleenthede raaksien, soos die groot markte in die ontwakende reus, China. Moenie net op die tradisionele uitvoermarkte van Europa en Amerika konsentreer nie. Kyk na die nuwe markte waaraan Suid-Afrika nie gewoond is nie. Dit hou nuwe uitvoergeleenthede in.
Ander Afrikalande tel ook onder hierdie nuwe geleenthede, soos die Demokratiese Republiek van die Kongo. Daarby soek Zambië al weer Suid-Afrikaanse boere om daar te gaan boer. "Ons glo nie altyd in onsself nie, maar ander lande bejeën ons met agting."
Meer op plaaslike vlak is een van die groot uitdagings om steun van staatskant vir risikoversekering te kry. Ander landboulande se regerings gee steun aan die korttermyn-versekeringsbedryf sover dit die versekering van landbourisiko's betref. Hier is al versekering teen hael, maar die ideaal is om die boer se risiko's verder te stabiliseer deur byvoorbeeld ook produksiekoste te kan verseker. Dan kan boere makliker die aanslae van moeilike landboujare te bowe kom.
AgriBEE is die ander groot uitdaging vir die landbou. Hierdie plan vir swart bemagtiging in die landbou is nog in sy kinderskoene en dit het tandekryprobleme, maar al die betrokkenes in die landbou moet saamstaan om daarvan 'n sukses te maak.
1 Oktober 2004
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24