|
|
|
| Bygewerk: | 25 May 16:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 88% |
| Wind: |
Duidelik oor grondhervorming nodig
Suid-Afrika het 'n groeikoers van 6 % oor tien jaar nodig om werkloosheid doeltreffend te bekamp. Groter duidelikheid oor grondhervorming in Suid-Afrika kan heelwat bydra om die groeikoers te verhoog en groter vertroue in die ekonomie te skep.
Dr. Manie van Dyk, 'n woordvoerder oor finansies van die DA, sê in reaksie op die begrotingstoespraak van die Tesourie die mikpunt van 30 % landbougrond in swart hande teen 2015 moet daadwerklik deurgevoer word. "Daar is verwagtinge geskep en dit is die staat se plig om nou daaraan uitvoering te gee en nie landbou vir vertragings die skuld te gee nie."
Hy sê op welke wyse die 30 % bepaal is, is onbekend en hy glo nie eers die minister weet hoe dit saamgestel is nie. Die Tesourie het egter 'n belangrike rol om te speel om die beraamde begroting van R1,5 miljard per jaar beskikbaar te stel sodat die proses deurgevoer kan word en die kwessie van grondhervorming nie later in 'n tydbom omskep word nie.
Oor die Wet op Eiendomsbelasting wat op 2 Julie ingestel word, het Van Dyk gesê die Regering behoort dit duidelik te stel dat die staat die implementering daarvan sal bestuur en monitor met in ag neming van die ekonomiese fluktuasies in die landboubedryf. Die staat moet toesien dat dit nie tot landboubankrotskappe lei nie.
Hy sê kunsmatige bevordering van regstellende aksie, gelykheid, transformasie, herverdeling en kwotas is niks anders as politieke toneelspel nie. Dit verhoog die inkomste van 'n groep nuut aangestelde mense, maar probeer nie om werkloosheid op te los nie. "Dit is 'n feit dat Suid-Afrika 'n werkloosheidsyfer van 40 % het en die President kan dit nie wegwens nie. Die feit dat 47 % van die swart arbeidsmag werkloos is en dat werkloosheid onder wittes die afgelope sewe jaar met 92 % gestyg het, sê daar is groot fout met die ekonomie."
10 Junie 2005
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24