|
|
|
| Bygewerk: | 25 May 16:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 88% |
| Wind: |
Die DA sê as grondhervorming nie volhoubaar gedoen word nie, sal dit weinig help om armoede te verlig en die lewensgehalte van bevoordeeldes te verbeter.
Dr. Kraai van Niekerk, wat namens dié party op die Regering se grondberaad gepraat het, sê 'n volledige landelike ontwikkelingstrategie, wat genoeg ondersteuningsdienste insluit, is 'n voorvereiste vir suksesvolle grondhervorming. 'n Ernstige probleem is die staatsmasjinerie wat nie doeltreffend funksioneer nie.
Hy beklemtoon dat die koste van grondhervorming gedeel moet word deur die staat en ál die land se inwoners en nie net die las van grondeienaars moet word nie. "Om weg te beweeg van billike markwaarde en die beginsel van gewillige koper, gewillige verkoper sal die land se ekonomie ondermyn. "
Van Niekerk sê met grondhervorming moet meer klem op kommunale gebiede gelê word. Hy glo 36 % van die landbougrond met 'n hoë potensiaal is in kommunale gebiede veral langs die Ooskus. Die DA is besig met 'n strategie vir ontwikkeling in dié gebied.
Mnr. Darryl Swanepoel van die NNP meen grondherverdeling moet teen die vinnigste moontlike tempo geskied aangesien dit nou dubbel soveel kos as tien jaar gelede. Elke jaar styg die koste met 15 %.
"Eiendomsreg moet egter in ag geneem word. Herverdeelde grond moet in die hande van voorheen benadeeldes bly. Dit sal nie veel help as miljarde rande bestee word en die eienaarskapspatrone ná 20 jaar steeds dieselfde is nie. Dit gebeur te maklik dat herverdeelde grond weer verkoop word, soms aan die vorige eienaar."
Die ACDP vra dat die invloed van vigs ook in ag geneem moet word. Dié party is gekant teen die inmenging in die vrye mark, maar stem saam dat nuwe grondeise toegelaat moet word.
5 Augustus 2005
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24