|
|
|
| Bygewerk: | 25 May 16:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 88% |
| Wind: |
Die brandende kwessies van grondhervorming het duidelik na vore gekom op die Wes-Kaapse grondberaad wat op Goudini gehou is.
Mnr. Terrence Fife, senior bestuurder van die departement van grond in die Wes-Kaap, sê hoewel die kwessies in die hande van die politici is, is die boodskap ná die konferensie dat grondhervorming dringend versnel moet word. Hy meen 'n duidelike plan van aksie moet binne drie maande ná die nasionale Beraad in werking gestel word.
Uiteenlopende sake is op die provinsiale beraad bespreek. Van die belangrikste hiervan is die hersiening van die beginsel van gewillige koper, gewillige verkoper asook die uitgangspunt van markgedrewe grondhervorming.
Daar is gesê opkomende boere word nie ernstig deur die Regering bejeën nie en dat hulle feitlik geen geldelike bystand ontvang nie. Die Departement van Landbou se steunprogram aan nuwe boere (Casp) is ook bevraagteken aangesien sekere opkomende boere glo meer geld as ander ontvang.
Nog 'n probleem blyk toegang tot markte en supermarkte vir opkomende boere te wees. Daar is gevra dat Regering se program vir die herverdeling van landbougrond (LRAD) hersien word omdat talle mense sê dit is een van die bydraende faktore tot die "sloerdery" van grondhervorming.
Talle mense op die beraad het op 'n moratorium op die verkoop van staatsgrond en veral munisipale grond aangedring. Voorstelle vir 'n moratorium op die verkoop van private grond is ook geopper.
Afgevaardigdes van die SAKP het gevra dat grond wat nie gebruik word nie, onteien moet word. 'n Verbod, of ten minste 'n beperking, moet op buitelandse besit van grond geplaas word. Die sogenaamde afwesige eienaarskap moet ook aandag kry.
Daar is 'n beroep gedoen vir die hervorming van waterregte, aangesien 'n mens "nie sonder water kan boer nie".
Ou wetgewing wat nuwe boere verhinder om suksesvol te boer, soos die Skutwet van die 1930's, moet volgens verteenwoordigers van die Suid-Kaap herroep word.
29 Julie 2005
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24