|
|
|
| Bygewerk: | 25 May 16:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 88% |
| Wind: |
"Daar is geen voorneme om die teiken van 30% landbougrond vir grondhervorming te verander nie. Dít is die teiken en dít is waarvoor ons mik," sê mnr. Tozi Gwanya, direkteur-generaal van grondsake.
Hy het dié versekering in antwoord op 'n vraag by Landbouweekblad en AMT se vooruitskouingskonferensie in Pretoria gegee. Hy sê daar is net een plan en dit is om 25 miljoen hektaar van die bewerkbare 85 miljoen hektaar aan mense te oorhandig wat voorheen nie toegang tot grond gehad het nie.
Verder is dit die plan om hierdie nuwe grondeienaars behoorlik te ondersteun - iets waarmee die Regering baie swak was. Hy sê hy het groot lof vir die Nasionale Party van 1948 vir die wyse waarop hulle boere gehelp het. Baie van die strukture wat toé gevestig is bestaan vandag nog.
Hy bedoel nie daarmee dat strukture soos bemarkingsrade weer gevestig moet word nie. "Ons moet egter lesse daaruit leer en vra wat het hulle daardie tyd reg gedoen om te help om hierdie dier te skep wat die Afrikanerboer genoem word."
Gwanya het ook gesê daar is met grondeisekommissarisse ooreengekom dat alle uitstaande grondeise binne die volgende ses maande in die Staatskoerant afgekondig sal wees. Die meeste uitstaande eise is in KwaZulu-Natal.
Hy het gesê eenheid in die landbou is 'n groot uitdaging. Die verdeeldheid tussen swart en wit boere is tot niemand se voordeel nie. "Kommersiële boere is gelyk aan wit boere en opkomende en kleinskaalse boere gelyk aan swart. Die organisasies - Agri SA, TLU SA en Nafu SA - bevestig die gedagte dat daar in die verlede geleef word en boere nog nie geleer het om saam te werk nie."
Mnr. Neels Ferreira, voorsitter van Graan Sa het gesê daar is 'n persepsie dat kommersiële boere nie veel doen om nuwe boere op te lei nie. Volgens hom bestee kommoditeitsorganisasies R63 miljoen per jaar aan die oordrag van vaardighede aan nuwe boere. Hy wou weet hoeveel die Regering bestee.
Dr John Purchase, uitvoerende direkteur van die Landboubesigheidskamer, het gesê net 'n maatskappy soos MGK het in 2007/08 129 nuwe boere op 17 000 ha gevestig en met R41 miljoen se gewasfinansiering gehelp. Volgende jaar sal dit 'n verder 270 boere op 40 000 ha met R130 miljoen aan finansiering wees.
7 Oktober 2008
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24