|
|
|
| Bygewerk: | 25 May 16:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 88% |
| Wind: |
Na raming is meer as 35 000 ha weiveld verlede week weens veldbrande in die Indwe en Elliot distrikte in die Noordoos-Kaap vernietig, sê mnr. Charl Stötter, van Fairfield op Ida, wat aan die stuur van sake gestaan het om die brande onder beheer te kry.
Volgens Stötter is dit die vierde groot brand wat die gebied die afgelope twee maande getref het. 'n Maand gelede het weerlig veld dié nag aan die brand gesteek.
Klik hier om na foto's van dié brande op die fotogalery te kyk.
Stötter sê die jongste brand het ontstaan nadat 'n beheerde veldbrand buite beheer geraak het toe sterk wind brandende kole oor 'n rivier gegooi het. "Ondanks voorbrande het dit vinnig van die een na die volgende plaas versprei. Teen Vrydagnag het dit na die Otto du Plessis-pas wat Ida met Barkly-Oos verbind en na Elliot versprei. Verskeie boere het al hul weiding verloor."
Toe Landbouweekblad die plase Vrydagaand besoek het, het vee verdwaas rondgedwaal. Mnr. Theo Prinsloo van Borfabos het 'n nou ontkoming gehad toe hy sy brandblusser wat op sy bakkie monteer was gebreek het, terwyl hy sy voerbale wou beveilig. Een van die sowat 10 brandbestrydingspanne wat in die omgewing was, kon tot sy redding kom. Bure het aangebied om weiding beskikbaar te stel aan boere wat al hulle veld verloor het.
Stötter sê dit is een van die droogste winters die afgelope 20 jaar. Die riviere is besig om op te droog en die meeste bogrondse damme se water reeds uitgeput is. Voer is haas onbekombaar en pryse het die hoogte ingeskiet. Boere wie se ooie lam, meld ook groot vrektes onder die lammers aan.
"Beide kommersiële en opkomende boere word ewe swaar deur die brande en droogte geraak. Ons het alles in ons vermoë gedoen om te verseker dat 'n paar kampe vir die opkomende boere nie brand nie. Voorbrande is ook inderhaas gemaak om hulle wonings te beveilig.
"Omdat daar so min kommersiële boere in Ida oor is, is die hulp van brandbestryders van Barkly-Oos en Indwe ingeroep. Ons is dankbaar vir die brandslaners wat bereid was om vir twee dae in uiters moeilike omstandighede die vure te help blus. Sommige het vir twee dae nie geslaap nie."
27 September 2007
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24