|
|
|
| Bygewerk: | 25 May 16:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 88% |
| Wind: |
Grootskaalse veranderings in beleid en implementering moet aan die Regering se grondhervormingsprogram aangebring word. As dié program steeds geïmplementeer word soos tans, sal die Regering se optimistiese mikpunt om 30 % van landbougrond teen 2014 te herverdeel, nie gehaal word nie, sê dr. Alastair Bradstock, direkteur Farm Africa.
Farm Africa is 'n internasionale nie-regeringsorganiasie met aartsbiskop Desmond Tutu as sy beskermheer. Dié organisasie het pas sy deure amptelik in Suid-Afrika geopen.
Farm Africa, met Farm wat staan vir Food and Agricultural Research Management, beywer hom vir die bestryding van armoede deur innoverende benaderings te ontwikkel om hulpbronne te bestuur. Dié organisasie werk in onder meer vyf Afrikalande en het reeds sedert 1992 ontwikkelingswerk in die Noord- en Oos-Kaap gedoen. Sy Suid-Afrikaanse tak is egter twee weke gelede amptelik in Pretoria bekendgestel.
Bradstock sê die begunstigdes van grondhervorming aanvaar hulle sal die sakebedrywighede van die vorige eienaar kan voortsit. "Arm mense met min tegniese landboukennis en min geld vind egter die uitdagings onoorkoomlik. As dié kwessie nie die nodig aandag kry nie, is dit onwaarskynlik dat die grondhervormingsprogram sy ambisieuse doelwit sal bereik."
Volgens mnr. Herman Festus, die organisasie se direkteur in Suid-Afrika, het heelwat begunstigdes beperkte ervaring in die bestuur van natuurlike hulpbronne. Hy sê tot 90 % van die plase wat ingevolge grondhervorming vir gemeenskappe geskep word, slaag nie as kommersieel werkbare plase nie. Met die samewerking van die nasionale en provinsiale departemente van landbou en van grondsake word nuwe grondeienaars opgelei in gewas- en veeproduksie, plaasbestuur en besproeiingstegnieke om die produktiwiteit van hul bates te verhoog.
4 November 2005
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24