Hof sit oor Von Abo-eise

 

Hoofregter Pius Langa en 11 regters van die Konstitusionele Hof sal vandag besluit of sekere dokumente rakende die Von Abo-saak openbaar gemaak mag word.

Mnr. Crawford von Abo, wat verskeie plase in Zimbabwe aan grondbesetters moes afstaan, het 'n bevel in die Pretoriase Hooggeregshof gekry wat die Regering verplig om sy belange in Zimbabwe te beskerm.

Die Regering teken appèl in die Konstitusionele Hof aan teen dié bevel. Die appèl word vandag aangehoor. Langa het verlede week bekend gemaak dat die Regering versoek het om bepaalde dokumente geheim te hou. Die inhoud van die dokumente is onbekend en totdat Langa en sy mederegters 'n besluit daaroor geneem het, het niemand toegang tot die inligting nie.

Langa het beveel dat regsverteenwoordigers van die Regering en Von Abo vandag hul redes om die dokumente geheim te hou, of nie, voor te lê. Die regters sal dan hul besluit maak. As die Konstitusionele Hof beveel dat die Regering wel Von Abo se belange in die buurland moet beskerm, kan dit die deur oopmaak vir ander sakelui in dieselfde omstandighede om op soortgelyke hulp aan te dring.

Bron:

Die Burger

11 November 2008

0