|
|
|
| Bygewerk: | 25 May 16:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 88% |
| Wind: |
Lede van Agri SA moet toesien dat sektorpolisiëring gereed is en goed werk voor kommando's in hul gebied gesluit word. Hulle word aangemoedig om by sektorpolisiëring betrokke te raak om sukses te help verseker.
Mnr. Kobus Visser, direkteur van owerheidsdienste by Agri SA, sê in gevalle waar kommando's in landelike gebiede gesluit word sonder dat 'n alternatief ingestel is, moet vertoë deur die landboustrukture aan die Regering gerig word. "Ons het 'n onderneming van die Minister van Verdediging dat aktiewe kommando's nie gesluit sal word voor die polisie gereed is om die rol oor te neem nie en ons sal probeer om hom daarby te hou."
Daar is ook onderneem om dormante en minder aktiewe eenhede eerste te sluit. Hy het gereageer op kritiek van politieke partye die afgelope tyd oor 'n besluit dat 17 kommando's voor einde Maart en nog 55 voor Maart volgende jaar moet sluit.
Mnr. Pieter Groenewald van die Vryheidsfront sê dit hou 'n bedreiging in vir landelike beveiliging en gaan sowat 16 000 hoofsaaklik swart kommandolede werkloos laat.
"Kommando-eenhede word gesluit, maar die polisie het nog nie eers begin met die werwing van reserviste nie. Met die uitfasering van die kommando's gaan die gemeeskapsdinamika ook verlore gaan, wat krities was vir die insameling van inligting om voorkomend op te tree."
Mnr. Ryno King, die DA se woordvoerder oor landelike veiligheid, sê sonder genoeg polisiëring in gebiede waar kommando's gesluit word, gaan dié gebiede aan veediefstal, plaasaanvalle en roof blootgestel wees. "Ons sal die Minister tot verantwoording roep vir enige toename in geweld in dié gebiede."
Visser sê die behoud van die kommandostelsel was Agri SA se eerste keuse. "Nou is dit egter nie 'n moontlikheid nie en ons moedig ons lede aan om by sektorpolisiëring betrokke te raak sodat ons dáár 'n verskil kan maak. Ons is self bekommerd dat die oorskakeling nie glad sal verloop nie en leemtes sal laat."
'n Boer wat by die kommando's betrokke was, het vier keuses. Hy kan by die tradisionele reserwemag betrokke raak, 'n spesialisreservis word en in 'n spesifieke rigting opgelei word, by landelike beveiliging in sy eie sektor of by misdaadvoorkoming op gebiedsvlak betrokke raak.
Intussen het mnr. Charles Nqakula, Minister van Veiligheid en Sekuriteit, in Kaapstad gesê hy is vol vertroue dat landelike veiligheid steeds onder beheer is. Hy sê 'n taakspan, wat die implementering van die landelike veiligheidstrategie bevorder, is in die lewe geroep en besoek tans die provinsies.
Hy sê daar word beoog om teen Maart 2009 altesame 183 kommando's van die SANW te sluit sodat ook hierdie verantwoordelikhede in die hande van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) gevestig kan word.
25 Februarie 2005
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24