|
|
|
| Bygewerk: | 25 May 16:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 88% |
| Wind: |
Die Demokratiese Alliansie (DA) het 'n beroep op me. Lulu Xingwana, Minister van Landbou en Grondsake, gedoen om te verseker dat haar departement dringend stappe doen om uitstaande vakatures te vul.
In die Departement van Landbou se jaarverslag word aangedui dat 25,6 % van die poste vakant is en dat daar teen die einde van die boekjaar sowat 869 poste gevul moes word.
Volgens die DA is daar 'n yslike vakaturekoers van 36 % in permanente administratiewe poste, 37,2 % van die professionele finans- en ekonomiese poste moet nog gevul word en 15,8 % van die finansiële klerke en kredietkontroleurs is nog nie aangestel nie. Volgens die DA is 25,9 % van die finansposte nie gevul nie.
"Met soveel vakante poste verbaas dit 'n mens nie dat die departement te min vaardighede het nie en nie aan Internasionale Rekeningkundige Standaarde ten opsigte van sy landbouskuldrekening kan voldoen nie," het mnr. Maans Nel, die DA se adjunk-woordvoerder oor landbou, gesê.
Dié departement se landbouskuldrekening (LSR) het 'n gekwalifiseerde ouditverslag vir 2005/06 van die ouditeur-generaal (OG) gekry.
Die OG kon nie 'n betroubare gevolgtrekking maak oor die noukeurigheid "en billike weergawe van die meeste saldo's wat in die finansiële jaarstate onthul word nie". Met sy kwalifisering van die verslag oor die LSR sê die OG die departement kon nie al die nodige ouditprosedures oor die voldoening aan die standaarde van finansiële instrumente uitvoer nie.
Volgens die DA dui die departement se versuim om behoorlik verslag te doen oor sy skuld, of die bedrag aan rente wat hy ontvang het, op 'n groter probleem.
Nel meen 'n gebrek aan uiters noodsaaklike kundigheid en behoorlike boekhouding- en databestuurstelsels in die Departement van Landbou is hiervoor verantwoordelik.
Landbouweekblad, 13 Oktober 2006
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24