|
|
|
| Bygewerk: | 25 May 16:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 88% |
| Wind: |
Wynmakers het seker reeds 'n idee met watter kultivars of style hulle 'n slag kan slaan op vanjaar se SA Jongwyn-toekennings. Inskrywings sluit op 25 Junie en sowat 'n maand later span die bedryf se ringkoppe elke proeklier en greintjie kennis in om oor nuwe adresse vir die bekers te besluit.
Die beste onder die bestes verwerf die gesogte Genl Smuts-trofee - die toppunt van prestasie vir Suid-Afrikaanse wynmakers. Bykans net so belangrik en wat as erkenning vir vernuf oor 'n wye front beskou word, is die Pietman Hugo-trofee vir die wynmakery met die hoogste totaal vir vyf wyne.
Ná die beoordeling van 28 Julie tot 1 Augustus, verloop byna drie weke van naelbyt terwyl die beoordelaarsverslae gefinaliseer word. Op 21 Augustus breek die groot dag aan, wanneer die wenners tydens 'n middagete met Agri-Expo en die SANW as gesamentlike gasheer by die Lord Charles Hotel in Somerset-Wes bekend gemaak word.
Jongwyne ding om kampioenskaptrofeë in 17 klasse mee. Onder witwyne ressorteer Chenin Blanc, Sauvignon Blanc, Chardonnay, Sémillon, Ander Wit Kultivars, Droë Wit Versnit, Soeterige Witwyn en Edellaatoes. Onder rooiwyn word sake in die klasse vir Pinotage, Shiraz, Cabernet Sauvignon, Merlot, Ander Rooi Kultivars en Droë Rooi Versnit uitgespook, terwyl gefortifiseerde wyn die klasse vir Port, Dessertwyn en Muskadel insluit.
Die katalogus en inskrywingsvorm is aanlyn beskikbaar by www.youngwineshow.co.za en by die SA Nasionale Wynskouvereniging (SANW) kantoor.
Kontak Elsabé Ferreira by tel (021) 807 3104, faks (021) 863 2079, e-pos ferreira@vinpro.co.za
2 Junie 2008
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24