Die ridder op die wit perd is gewoonlik die held in ’n sprokie of ’n liefdesroman. Suid-Afrika se eie me. Tina Joemat-Pettersson, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, is onlangs tot ridder geslaan deur haar Franse eweknie, mnr. Bruno le Maire.
Volgens die departement het dié eer haar te beurt geval vanweë die aantal werkgeleenthede wat in die landbou geskep is. In ’n verklaring haal die departement statistiek van Statistieke SA aan waarvolgens 656 000 werkgeleenthede in die landbou in die laaste twee kwartale van verlede jaar en die eerste kwartaal van vanjaar geskep is.
Agri SA en die TLU SA het Joemat-Pettersson met die prestasie gelukgewens, maar
vrae bestaan in die bedryf oor die korrektheid van die statistiek. Mnr. Dawie Maree, kommersiële bestuurder vir Agri SA, sê volgens die minister is die meeste van die werkgeleenthede in kleinboere se bedrywe geskep, maar die terugvoering wat die organisasie van boere kry, is dat werkgeleenthede al hoe minder word. “As ons luister na wat in die veld gebeur, word werkgeleenthede ál minder.”
Wat dink jy, is die statistiek korrek? Word meer werkgeleenthede in die bedryf geskep en is die minister die bedryf se held op ’n wit perd?