Ek is ’n persoon wat uiters lief is vir Afrikaans, in só ’n mate dat ek weier om Engels met ’n Engelssprekende persoon te praat.
Maar ongelukkig moes ek op die harde manier leer dat ’n mens uiters oopkop aangaande die sakewêreld en veral die boerdery-omgewing moet bly, selfs al beteken dit dat jou taal daaronder mag ly. Besigheid is belangriker as jou taal. Dit is iets wat ons Indiese, Griekse, Joodse en Portugese mede-burgers al jare lank met uiterste doeltreffendheid in die sakewêreld uitleef. Daarom wil ek ’n opmerking maak en ook vir Landbouweekblad ’n kompliment gee.
Sowat vier tot vyf jaar gelede het ek begin opmerk dat Landbouweekblad se artikels ietwat tekort skiet. Hoe langer ek aanhou lees het, hoe meer het ek begin besef dat daar gebreke was in die tydskrif waarmee ek grootgeword het.
Dit het regtig begin lyk of Landbouweekblad slegs oor vleis, koring en mielies kan skryf en, o wee, as daar die slag oor ’n “nuwe” boerderygeleentheid geskryf word, moet jy vinnig besef: Daardie boerderygeleentheid was telkens gebaseer op subjektiewe opinies van individue wat direk in die bedryf staan en só geposisioneer was dat die artikel hul eie mark bevorder tot direkte voordeel van hulself.
Sulke innoverende boerderypraktyke se geleentheidsvenster was telkemale reeds besig om toe te gaan en joernaliste is onwetend misbruik om die “Adriaan Nieuwoudt” van daardie bedryf ’n kans te gun om die laaste van sy kubusse aan niksvermoedende lesers te verkoop. (Ek verwys onder meer na die artikel oor die ghaap-bedryf nadat dit reeds ses jaar bestaan het en die insinking daarvan kort ná publikasie van die artikel). Landbouweekblad was op ’n gevaarlike plek . . .
Gevolglik het ek my patriotiese hart met ’n swaard deurboor en begin om een van die Engelse landboutydskrifte te koop pleks van my ou, getroue Landbouweekblad. Op grond van die groot aantal briewe in daardie tydskrif van lesers met regte Boerename en -vanne, was ek duidelik nie die enigste individu wat hierdie opsie gevolg het in ’n poging om meer relevante en alternatiewe denke oor landbou-aangeleenthede te verkry nie.
Vir langer as twee jaar het ek nie meer Landbouweekblad gelees nie, tot so ’n paar maande gelede toe ek op die grens van Botswana verplig was om weer ’n Landbouweekblad te koop, aangesien daar geen eksemplare van die Engelse landboutydskrif beskikbaar was nie. En was my verbasing nou groot . . . geweldig groot. Landbouweekblad het ’n metamorfose ondergaan wat selfs die pragtigste skoenlapper wat uit sy kokon ontluik, ’n blos op die wange sou gee. Die bladuitleg is innoverend, die artikels is vars en nuut, redaksionele kommentaar is direk op die man af en uiters weldeurdag.
Dit het gevoel soos ’n prestige-handelstydskrif wat skryf oor boerdery-aangeleenthede, pleks van ’n groep ou vriende wat oor hul eie beperkte lewenswêreld met mekaar gesels en niks werklik nuuts het om te sê nie. Nie slegs dit nie, maar Landbouweekblad het vermag wat vele tydskrifte nie kon vermag nie.
Telkemale dink mense dat “vernuwende denke” beteken dat tydskrifte nou moet begin skryf oor die gesondheidswenke van die Dalai Lama en sy opinies oor holisme, ens. Dankie tog, Landbouweekblad hou by sy doel, naamlik die skryf van artikels om boere te bemagtig en te versterk in hul komplekse besluite om hul boerdery-omgewing en wins te optimaliseer. Regtig, Landbouweekblad, ek dink nie julle besef wat julle vermag het nie.
Dankie dat ek ’n slag weer in my eie taal kan lees en oopkop oor die feite kan dink. Julle het geen idee hoe ek dit waardeer om in my taal te dink en te lees en kan voel dat dít wat ek lees, regtig iets bydra tot my eie insig en denke oor die wêreldwye en plaaslike boerderybedryf.
Ek weet nie wat julle gedoen het en hoe julle dit vermag het nie, maar ek wil een versoek rig: Hou daarmee vol! Julle laat hierdie Afrikaner-boerehart nou weer trots klop!