Nuwe spore: Foto: LIZE EARLE
Hier is Landbou.com se splinternuwe webwerf, waarmee ons nuwe spore wil maak. Wat dink jy daarvan?
Die platform waarop Landbou.com gebou is, het begin wankel onder die groter volume van meer besoeke en bladlese. En soos dit 'n boer betaam, is die draadtang en bloudraad plek-plek ingespan om knelpunte op 'n plek of twee reggemaak. Die oorbou van Landbou.com was onvermydelik.
Die Landbou.com-span vra jou geduld terwyl jy die nuwe webwerf bekyk en deurwerk en ons vertrou dat jy die nuwe webwerf sal geniet. Stuur jou kommentaar daaroor aan webred@landbou.com sodat ons aandag daaraan kan gee of lewer onder dié berig kommentaar.
Ons meen dat die nuwe Landbou.com vir jou 'n nóg lekkerder besoekplek gaan word. Enkele nuwighede is bygevoeg, soos ’n afdeling vir die Gesin, waar ons heelwat meer inligting vir vroue en gesinsake wil aanbied, asook ’n afdeling vir Troeteldiere.
Vandag se weer behoort baie nuttig te wees omdat ‘n gebruiker die weer op sy plaas, of minstens die naaste plaas aan jou, jou dorp of stad sal kan aanvra - met ’n voorspelling vir die volgende ses dae. Dis ’n unieke nuwe diens.
Die nuwe Praat Saam-afdeling beloof ook om vir heerlike debatte van die dag te sorg. Hier sal jy jou opinies, asook briewe en foto’s met Landbou.com én ander lesers kan deel. ‘n Funksionaliteit om met Facebook en Twitter te kan kommunikeer, is ook geskep.
Geniet dit!
Die Landbou.com-span
31 Mei 2012