Slegs ter illustrasie. Foto: MARIA WHITEHEAD
Ek is ’n nuweling onder die Nguni-boere, met 17 geregistreerde Nguni’s en ’n jonger span van 17 wat nog gekeur moet word.
Die brief van Sean Reid (“Nguni’s ná 25 jaar steeds nie raseg”, LBW, 20 April) het betrekking.
Ek is ’n nuweling onder die Nguni-boere, met 17 geregistreerde Nguni’s en ’n jonger span van 17 wat nog gekeur moet word.
Die helfte van alle aanteel is bulle. Hulle word superstreng gekeur en net ’n klein persentasie slaag. Ek was by met ’n paar keurings (volgens my keur hulle die bulle heeltemal te streng!). Dit bewys dat die standaard besonder hoog is.
Om ’n ras te “vestig” kan ook beteken om te stagneer. Ek glo ’n telersgenootskap en opgeleide keurders is juis daar om net die beste beeste van elke seisoen te kies. Die geringste gedagte aan afwykings word afgekeur.
Die goeie eienskappe wat die Nguni reeds het, is uitstekend en daarop kan verder gebou word deur deurlopend selektief te keur. Enige “nuwe bloed” word net so streng gekeur en, met die geringste teken van afwykings, word sulke diere summier afgekeur.
As daar met die geboorteregistrasie van kalwers die geringste twyfel is, versoek die genootskap DNS-toetse voor so ’n kalf net in die kalfboek van die genootskap ingesluit kan word, nog lank voor keuring en registrasie.
In elke besigheid is daar wél die kansvatters wat kanse waag met die teel van ’n ras en ook vir die arme koper die grootste klomp nonsens vertel! (Mog hy met sy hond tussen die Nguni’s gaan stap.)
Leer ’n les: Doen jou eie navorsing en gebruik jou gesonde verstand om ’n besluit te neem; moenie almal glo nie!