Van al die afgekeurde Nguni-beeste gedurende die afgelope drie jaar (2008 tot 2011), is ruim 19% afgekeur vanweë rasvreemde eienskappe en daarby nog ’n verdere 24% op grond van voorkoms, wat natuurlik met rasvreemde eienskappe verband hou.
’n Totaal van 43% van al die afgekeurde Nguni-beeste is dus nie eie aan die ras nie en dit ná 25 jaar se teling of die bestaan van die genootskap. ’n Normale mens verwag dat die ras ná 25 jaar gevestig is. ’n Mens sou ook hoop dat daar teen dié tyd al van nie-rasegte beeste uit die genepoel van gevestigde telers ontslae geraak is.
Die groot bedrog kom in by die invoer van “Makhathini”- en ander “nuwe bloed”-beeste, wat raseg mag lyk. Die Makhathini-vlakte huisves ook ander beesrasse, wat kruisteling maklik maak. ’n Vriend van my wat prestasietoetsing doen, het gevind dat sy sogenaamde Makhathini-beeste wat by erkende telers en inspekteurs aangekoop is, almal swaarder weeg binne ’n groep. Dit is abnormaal as dit vergelyk word met die bees se fisiologie, aanpassing en bouvorm. Dit is ’n aanduiding van onsuiwerheid.
Ongelukkig (vir die koper) is prestasietoetsing nie ’n vereiste as sulke “nuwe bloed”-beeste te koop aangebied word nie. Die wetenskap sal onsuiwerheid beter aandui as ’n subjektiewe beoordeling deur ’n inspekteur sonder enige formele veekunde-agtergrond. Ná 25 jaar het die genoot-
skap die ras eerder verbaster ter wille van persoonlike voorkeure, voorkoms en geld sonder ’n wetenskaplike grondslag. Die briefskrywer in Landbouweekblad van 4 November 2011 (“Vet diere sal nie in veld oorleef”) het die spyker op die kop geslaan!