Verstedeliking in Suid-Afrika behandel steeds die landbou en die omgewing as die “stiefkinders” in die verstedelikingsdebat. Landbougrond is uiters geskik vir verstedeliking omdat die grond maklik uitgrawe en nie ontwikkelingskoste duurder maak nie.
Die randsoom-gebiede van die landbou by aanliggende stedelike ontwikkeling (hetsy formeel of informeel) is meestal ’n draadheining of ’n straat.
By die randsoom-gebiede van ’n sensitiewe gebied, soos ’n rivier of ’n vlei, is dit meestal die 1:50-vloedlyn of hoofriool-uitvallyn wat bepaal tot hoe naby die voorgestelde dorpsontwikkeling sal plaasvind (optimale gebruik van grond is bepalend).
Albei dié gebiede skep probleme, enersyds weens die voortdurende diefstal of misdaad, en andersyds besoedeling van omgewingsensitiewe gebiede of die afsperring van natuurlike stroomgebiede as aktiewe oop ruimtes vanweë misdaad en diefstal wat daar kan plaasvind.
Die bydrae van die landbou tot die BBP word nie verreken as landbougrond onder druk kom vir verstedeliking nie. Landbou-grondgebruik moet binne die verstedelikingstruktuur aangemoedig en beskerm word, want die skaalekonomie bevoordeel die grondeienaar en sy onmiddellike markafsetgebied. Die grondwaarde per vierkante meter is hoër vergeleke met nywerheids-, kommersiële of residensiële grondwaarde.
Die voorafgaande sou onwaar gewees het as die boere van Philippi se probleem nie bestaan het nie en die betrokke substreek onvoorwaardelik sy landbou-bydrae tot die streek kon lewer, maar dit is nie. Die bydrae van landbou-grondgebruik binne stedelike konteks is in die reël uitgelewer aan die hoogste aanbodprys en hersonering daarvan buite die konteks van die landbou.
Die wangebruik van ’n ekonomiese bate in die substreek of streek word dus só regstegnies omseil. (Ek verwys ook na die opmerkings deur mnr. Paul Olden van Urban Dynamics Wes-Kaap om die oënskynlike voordele van verstedeliking te regverdig ten koste van die uitsetting van die landbou in die Philippi-substreek.)
Namate verstedeliking toeneem, ontstaan druk om landbougrond in te sluit in gemengde soneringsvoorstelle wat die basis-ekonomie sou kon bevoordeel (perceived needs analysis teenoor felt needs analysis).
Stedelike ontwikkeling per se, gerugsteun deur wetgewing en/of institusionele strukture wat dit afdwing, bestaan beswaarlik, want aansoeke word gedoen om die stedelike struktuur wat landbougrondgebied aandui, te hersoneer vir alternatiewe gebruike wat die landbou en die landbou-omgewing “halssnoer”.
Geïntegreerde stedelike struktuurplanne wat die landbou-omgewing as grondgebruik uit eie reg soneer en omskryf as deel van die verstedelikte omgewing, bestaan beswaarlik en word op ’n ad hoc-grondslag gehanteer. Landbougrond word hersoneer na verwante stedelike grondgebruik-doeleindes en omgewingsensitiwiteite sal slegs deur ’n omgewingsimpakstudie gehanteer word as openbare protes dit opeis. Dit is egter mosterd na die maal.
Die omgewing moet in die begin as deel van die oorhoofse grondgebruiksbeplanning gehanteer, gevestig en in stand gehou word. Voortdurende verstedelikingsdruk ontneem die direkte bydrae van die landbou wat daaglikse verbruikersgoedere betref. Dit word verder en verder uitgeskuif na randsoomgebiede waar die skaalekonomie die kleinskaalse boerdery-eenheid onekonomies maak.
Die georganiseerde landbou behoort die landbou en landbou-omgewing as grondgebruik uit eie reg in die verstedelikingsdebat te hanteer op grond van ’n grondgebruiks-beleidstrategie, in oorleg met alle vlakke van die Regering.
Dit moet pro-aktief bevorder word sodat dit ook op sub-streekvlak die behoud van landbougrond tot gevolg het. Hier is verskeie gebreke wat aangepak moet word om vir landbousubstreke, soos Philippi se boere, tydig in die bresse te tree deur te verseker dat gesonde beplanningsbeginsels toegepas word tot voordeel van die substreek, die streek en nasionaal.
Hoe langer die debat op die agtergrond bly, hoe meer sal verstedelikingsvergrype op landbougrond so tegnies moontlik omskryf word dat dit amper sin maak. Dis onaanvaarbaar.