Dis nou oral behalwe in Suid-Afrika waar verdagmakery en vuilsmeerdery al só ’n wetenskap geword het dat pres. Jacob Zuma in sy openingstoespraak in die Parlement gewraakte stellings direk teen boere en grondeienaars kan mik en selfs applous kry daarvoor.
Tydens repliek neem hy dit verder en impliseer dat alle grond deur boere gesteel is. En dít nadat dr. Pieter Mulder, Adjunkminister van Landbou, Bosbou en Visserye, dit gewaag het om sinvol oor erkende feite te debatteer.
Die rede is voor die hand liggend. Oor baie jare word die menigte bykans letterlik gevoed met propaganda teen alle boere wat as vuilgoed en die vyand uitgebeeld word. Die bewys is die feit dat ’n dooie renoster meer mediadekking kry as ’n plaasmoord. Is daar nie hoeka al veel meer boere as renosters “gestroop” nie?
Berigte soos dié oor boere in die Suid-Kaap en die Vrystaat wat deur me. Mildred Oliphant, Minister van Arbeid, self besoek is, en vele ander insidente, is oor jare met groot vertoon in die media verkondig. Dit is eintlik net om boere as sleg te bewys en die pad te teer vir die ANC om grondbesit sonder teenstand aan te val. Dit is omdat ons boereleiers verseg om die bedreiging te takel. Toe dieselfde steekproef in dele van die Noord-Kaap met vlieënde vaandels geslaag is, is geen woord daaroor gerep nie, nie eens deur Agri SA nie.
Agri SA doen waarskynlik baie om met elke nuwe Landbouminister en sy gevolg ’n goeie werkverhouding op te bou. Hulle doen skynbaar ook baie moeite om boere wat landuit na Georgië en wie weet waar nog wil gaan, by te staan.
Wanneer en hoe wil Agri SA die propaganda en swartsmeerdery van boere wat in Suid-Afrika wil bly, met doelbewuste openbare aksies teenwerk en verander? Is dit nie waar hul voorrang moet lê nie? Stilbly en geloof dat geregtigheid sal seëvier, werk ooglopend nie.
Gaan hulle mnr. Gugile Nkwinti, Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, weer daarmee laat wegkom dat hy op TV sê “baie grondverkopers en ’n enkele koper is nie gewens nie”? Dis tog skietgoed soos dié wat ons aan die groot klok moet hang. As sy kennis van die vrye mark so gebrekkig is, hoe kan hy in so ’n belangrike portefeulje vertrou word?
Kan ’n mens verkwalik word as jy begin dink dit kan dalk beter wees om eerder ons boerevereniging se ledegeld vir Afriforum te gee?