|
|
|
| Bygewerk: | 25 May 16:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 88% |
| Wind: |
"Die Wes-Kaap het 'n 'Meneer Koring' nodig, wat vinnig ons probleme kan aanpak soos die mielieboere in (mnr.) Bully Botma het," het mnr. Cobus Bester van Moorreesburg gesê in sy boerevereniging se pleidooi om 'n eie struktuur vir die Wes-Kaap binne Graan Suid-Afrika.
In hul beskrywingspunt namens die landbouverenigings van Moorreesburg, Hopefield, die Sandveld en die Koringberg meen Bester en die inleier, mnr. Schalk van der Merwe, dat die unieke toestande van graanboerdery in die Wes-Kaap 'n struktuur met 'n werkwyse soortgelyk aan die bestaande gars- en kanolabedryfskomitees regverdig.
Bester meen die Wes-Kaapse koringforum het "met goeie gevolge" dié rol vervul. Van der Merwe het dit beaam. "As die forum nie daar was en die mielieprys nie so laag was nie, het niks gebeur nie. Baie van ons geld en hoop is op die koring-ondersoek gevestig. Ons gaan nie skeur nie, ons gaan net langer aanhou met die forum."
Bester sê hulle voel baie sterk oor die saak. "Ons het 'n struktuur met meer tande nodig een wat die leemte in kommunikasie tussen bestuur en boere in die Wes-Kaap kan vul."
Die lewendige bespreking wat gevolg het, word dalk die beste verwoord deur mnr. Hermanus Kitshoff se opmerking dat hulle "afgeskeep voel" binne Graan SA se struktuur.
Die meeste boere is ten gunste van die voorstel, maar het herhaaldelik gesê dat hulle nie van Graan SA wil wegbreek nie.
Mnr. Neels Ferreira, ondervoorsitter van Graan SA, sê strukturele veranderinge aan sy organisasie om die Wes- en Suid-Kaap beter te bedien, behoort moontlik te wees. Hy meen trouens dat Graan SA 'n kantoor in die Kaap behoort te hê.
11 Februarie 2005
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24