'n Nuwe private varsproduktemark wat glo die eerste sal wees wat afslag aan sy kontantkopers sal bied, open sy deure op 1 Junie in Kaapstad.
Volgens mnr. Charles Hamilton, uitvoerende hoof, gaan dié mark, newMarket Fresh Produce (Edms.) Bpk., besparings vanaf sowat R450 per koopdag tot R40 000 per maand aan kopers bied. Produsente sal ook by die nuwe mark baat vind deurdat hulle dienskoste kan beding wat op die tradisionele kommissiekoerse van ander markte gebaseer is.
Boere sal ook die mark se eie stelsel van palette vir bemarking gratis kan gebruik. Daar sal geen koste vir dienste, soos die faksgerief, sms-inligtingsversending en aflaaigelde vir hand-aflaaivragte, gehef word nie.
Hamilton sê 'n deursigtige stelsel sal gehandhaaf word. Alle verkoopsverslae sal regstreeks vanuit die gesentraliseerde verkoopstelsel daagliks aan boere gefaks word. Voorraadbeheer word deur 'n onafhanklike ouditeursmaatskappy onderneem wat permanente kantore by die mark sal hê. Produsente het altyd die volle prentjie oor verkope en kan die stand van voorraad kry ook elektronies.
Oorbetalings aan produsente sal gedoen word op dieselfde dag waarop verkope van besendings afgehandel is. newMarket gaan ná konsultasie met die bedryf, registreer by die Raad vir Landbouprodukte Agente (Wet 12 van 1992).
Die mark is in Productstraat 31-41, Ndabeni, wat maklike toegang tot die N1, N2 en N7 het. Daar word voorsiening gemaak vir die installasie van rypmaakkamers, uitbreiding van verkoelingsgeriewe en 'n restaurant.
7 Julie 2006