Karibib BV vier 100 jaar

 

Die Karibib BV in Namibië het Saterdag, 16 Junie 2007 sy 100-jarige bestaan gevier.

Die Karibib BV in Namibië het Saterdag, 16 Junie 2007 sy 100-jarige bestaan gevier. Ongeveer 80 gaste, waaronder die Duitse ambassadeur in Namibië, mnr. Von Kittlitz, 'n verteenwoordiger van die Erongo-streeksraad, die voorsitter van die NLU, mnr. Raimar von Hase asook verteenwoordigers van die borge, Agra en Bank Windhoek, het hierdie spog-onthaal by die Klippenberg Lodge op Karibib bygewoon.

Volgens die jongse nuusbrief van die Namibiese Landbou-unie het mnr. Von Kittlitz, wat 'n besondere belangstelling in die Namibiese landbou toon het 'n vergelyking getref tussen boerdery in Namibië en boerdery in Europa. Hoewel daar baie verskille is is daar ook baie ooreenkomste. In beide gevalle speel die vereistes van die mark 'n groot rol en moet die natuur as 'n vennoot in boerdery praktyke beskou word. Die uitdagings in Namibië as gevolg van sy klimaat is net baie groter as in Europa. Hy is besonder bekommerd oor bosindringing in Namibië en het boere aangemoedig om met voorstelle te kom oor hoe om bosse as 'n ekonomiese hulpmiddel te gebruik.

Mnr. Raimar von Hase, die voorsitter van die NLU, het die Karbib BV as voorbeeld gebruik van hoe die georganiseerde landbou die aanslae van die tyd kan oorleef en nog steeds 'n bydrae maak tot die landbou in Namibië. Hy het boere ook aangemoedig om na moontlike alternatiewe te kyk soos die karakoelbedryf wat eens 'n florerende bedryf in die Karibib-omgewing was en tans weer 'n oplewing toon.

Oor grondhervorming het hy boere - wat om een of ander rede ophou om te boer - aangemoedig om hul plase vir die regering aan te bied om die regering in staat te stel om die beoogde 15 miljoen ha teen 2020 te bekom deur middel van die vrywillige verkoper en vrywillige koper-meganisme vir die grondhervormingsprogram.

Een van die hoogtepunte van die aand was dr. Herbert Schneider, tans voorsitter van die Karibib BV, se verhale oor die hoogte- en laagtepunte wat die Karbib BV die afgelope 100 jaar beleef het. Dr Schneider het omvattende navorsing gedoen oor die BV se geskiedenis wat vervat is in 'n boek getiteld Karibib Farmers' Association and the history and cultural development of the Karibib district. Hy het op 'n baie humoristiese wyse onder andere vertel van die goudstormloop van 1888 asook die pogings om met alternatiewe produkte soos die Chinchilla te boer. Die boek, wat werklik 'n interessante stuk navorsingswerk is, is beskikbaar by dr. Schneider, tel. 064 550830 of 061 228909.

23 Junie 2007

0