JAN CILLIERS
Die verbruik van katoen sal na verwagting wêreldwyd styg ná die daling in prys die afgelope ruk.
In sy jongste maandverslag beraam die Internasionale Katoenadvieskomitee (ICAC) dat 'n daling van 20 % in die prys die verbruik van katoen met minstens een persent sal laat styg.
Die Cotlook A-indeks het van vroeg in Januarie vanjaar tot einde verlede maand met gemiddeld 27 % gedaal, terwyl die prys van poliëster in dieselfde tyd met sowat 8 % gestyg het.
Katoenverbruik deur spinners behoort in die huidige seisoen na raming met 1,7 % tot 'n rekord van 21,5 miljoen ton te groei. Dit volg nadat verbruik weens stygende pryse feitlik tot stilstand gekom het.
China sal na verwagting dié seisoen minstens 6 % meer katoen verbruik. Dit beteken dié land sal na raming sowat 7,5 miljoen ton verbruik - 35 % van die totale verbruik wêreldwyd.
Wat die res van die wêreld betref, beraam die ICAC dat verbruik op 14,1 miljoen ton sal stagneer namate 'n voortgesette afname in ontwikkelde lande se verbruik vergoed vir toenames in Suid-Asië.
As na vraag-en-aanbod-beramings gekyk word, verwag die ICAC dat die Cotlook A-indeks met gemiddeld 168,78 c/kg (12 Amerikaanse sent per pond) of 17 % tot 801,68 c/kg (57 c/pond) sal afneem teenoor die vorige seisoen.3 September 2004