|
|
|
| Bygewerk: | 25 May 16:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 88% |
| Wind: |
Die 2005-koejaweloes van 22 500 ton (22 080 ton in 2004) was ietwat kleiner as wat verwag is weens verskillende oorsake, maar die voordeel is dat die vraag nou heelwat groter is as die aanbod. Tog sal indringend gekonsentreer moet word op 'n groter produksie, sê mnr. Cornel Grobbelaar, voorsitter van die Koejawelprodusentevereniging.
Hy sê die beleid wat gevolg word, is om saam met verwerkers riglynpryse te bepaal, want dit is belangrik vir boere sowel as verwerkers dat pryse só vasgestel word dat albei partye daaruit voordeel trek. Stabiele pryse en konstante volumes is noodsaaklik vir groei.
Die inmaak- en sapmark was verlede jaar ondervoorsien, wat daartoe gelei het dat verwerkers verskillende pryse aan boere betaal het. Die pryse is beïnvloed deur die tyd van die jaar wat dit betaal is, die vervoerkoste na die fabrieke, die hoeveelheid koejawels beskikbaar en die gehalte van die vrugte.
Grobbelaar sê die binnelandse mark vir vars koejawels is besig om te groei. In 2002 het sowat 4 000 ton na die varsmark gegaan, teenoor 5 000 ton in 2004 en 6 000 ton verlede jaar. Supermarkte koop meestal hul vrugte regstreeks van sekere boere, want hulle stel baie hoë standaarde vergelykbaar met dié van vrugte wat na lande in die Europese Unie uitgevoer word. Vrugte word self deur die supermarkte rypgemaak en met 'n vervaldatum op die verpakking verkoop. Ook smouse koop regstreeks van die boere en betaal 'n premie bo die fabriekspryse.
Die varsmark benodig heelwat meer koejawels as waarvoor boere begroot, naamlik in die omgewing van 8 000 ton. Dit sal moet aandag kry, meen hy.
Grobbelaar glo dat die produsentevereniging die bedryf nou in 'n redelike mate gestabiliseer het. Omdat die vraag na koejawels die aanbod oorskry, moet daar nou drasties aandag gegee word aan 'n groter produksie. Bemarkers van die verskillende verwerkers en boere moet saam 'n strategiese plan vir groter produksie op die tafel kry. Daar sal ook meer promosiewerk vir dié vrugte oorsee gedoen moet word.
Verder is navorsing nodig om nuwe kultivars daar te stel veral vir vrugteslaai. Swart ekonomiese bemagtiging moet ook meer aandag kry. Boere sal ook meer aandag moet gee aan die verkryging van Eurepgap-akkreditasie om aan markvereistes te voldoen, meen Grobbelaar.
20 Januarie 2005
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24