|
|
|
| Bygewerk: | 25 May 17:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 88% |
| Wind: |
Binnegevegte en oor en weer swartsmeerdery in die media gaan die koringbedryf niks help nie, sê prof. Herman van Schalkwyk, landbou-ekonoom en mede-outeur van 'n gesamentlike verslag oor die mededingendheid van dié bedryf.
Van Schalkwyk en sy kollega, prof. Charl van Deventer, se bevindings in die verslag is skerp deur die Meulenaarskamer gekritiseer. Kort nadat mnr. Jannie de Villiers, uitvoerende hoof van die kamer, 'n verklaring hieroor uitgereik het, het twee ander mede-outeurs, proff. Johann Kirsten van Pretoria en Nick Vink van Stellenbosch, ook te kenne gegee dat hulle hulle nie met van die Vrystaters se bevindings kan vereenselwig nie.
Van Schalkwyk meen die probleme wat in die bedryf geïdentifiseer is, is voldoende grondslag vir gesprekvoering tussen ál die belanghebbendes: As die primêre sektor van die bedryf nie kerngesond is nie, is dit terselfdertyd tot nadeel van die meulenaars en bakkers, want sonder Suid-Afrikaanse koring kan hulle ook nie winsgewend wees nie.
"Die meulenaars gaan gou huil as koringmeel ingevoer word. Hier is genoeg vrugbare grond vir gesprekvoering."
Van Schalkwyk se raad aan boere is om die oog op die bal te hou. "Los die nydigheid en kritiek. Dit is 'n strategie om jul aandag (van die werklike probleme) af te lei. Op elke vlak van die bedryf is daar foute wat reggestel moet word."
Hy het die moontlikheid genoem dat die Mededingingstribunaal gevra gaan word om beweerde monopolistiese gedrag en samespanning in die sekondêre sektor van die koringbedryf te ondersoek.
Hy meen egter daar moet eers geprobeer word om 'n klimaat van onderhandeling tussen ál die betrokkenes te skep.
27 Mei 2005
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24