Agriwiki

Trekkerwerf

Hunter & Jagter

Farming SA

Kosprys-duiwel buite landbou

 

Die Regering gebruik die landbou as 'n politieke speelbal en behoort nié die redes vir hoë voedselpryse binne dié sektor te soek nie, het mnr. Neels Ferreira, voorsitter van Agri SA se bedryfskamer en Graan SA, op 'n ontbyt aan die media gesê.

"Dit is verbysterend dat Eerstewêreldlande almal met een of ander plan vorendag gekom het om die voedselkrisis te verlig, terwyl Afrikalande suid van die Sahara niks doen nie," het Ferreira gesê.

Terwyl die land gons oor 'n beweerde broodkartel, word die feit dat die land se spoorwegnetwerk nie werk nie, geïgnoreer, sê Ferreira. Die meeste graan word deesdae per pad vervoer. Voorheen was dit op die spoorweë aangewese.

Silo's naby hawens het nie die vermoë om 'n hele skeepsvrag graan op te berg nie en dus kan vragte nie vinnig genoeg afgelaai word nie. "Om 'n boot te huur, kos ongeveer $90 000 per dag en daar moet vir elke aflaai betaal word," het Ferreira gesê. "Dié koste wentel als af na die eindverbruiker."

Verder moet die inflasie van produksiekoste eerder dopgehou word as voedselinflasie, aangesien die een die ander aanjaag, sê Ferreira. Die koste van chemikalieë, kunsmis en brandstof het die hoogte in geskiet.

"Boerderye se winsgewendheid het nie soveel verbeter nie." Hy sê die prys van kos het 'n strukturele verandering ondergaan. Hoewel verbruikers 'n stadiger styging in voedselinflasie kan verwag, sal dit nie afneem nie.

"Dit gaan 'n wyle duur voor daar genoeg geproduseer word om in die vraag te voorsien."

Landbouweekblad, 25 Julie 2008

0