|
|
|
| Bygewerk: | 25 May 17:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 88% |
| Wind: |
Die SA Nasionale Weermag moet teruggebring word om die landsgrense te bewaak omdat die Suid-Afrikaanse polisiediens nie die kapasiteit hiervoor het nie, is die mening van die Parlement se portefeuljekomitee vir veiligheid en skakeling.
Die Kabinet het in 2003 besluit dat die weermag (SANW) nie meer dié taak moet verrig nie en dat die polisie teen Maart 2009 die beveiliging van die grense ten volle sal oorneem.
Die SAPD en die operasionele koördineringskomitee vir grensbeheer het gister (Woensdag) hul strategiese planne aan die komitee voorgelê.
Me. Maggie Sotyu, voorsitter van die portefeuljekomitee, het gesê ná die voorleggings en die bespreking het die komitee tot die slotsom gekom dat die polisie nie gereed is vir dié taak nie. "Nadat ek vroeër die verslag van die polisie gesien het, het ek met die voorsitter van die komitee vir verdediging en ook ander gepraat. Die mening is dat die Kabinet bewus gemaak moet word dat die besluit wat hy in 2003 geneem het, nie in die huidige omstandighede sal werk nie."
Dit is reeds vyf jaar sedert dié besluit, maar die polisie het nie 'n beleid of strategie om hom te lei nie. Al die dokumente is nog in konsepvorm.
Die portefeuljekomitee het onderneem om met die betrokke ministers te vergader om te kyk wat gedoen kan word want sy siening is dat die ontrekking van die weermag 'n fout was.
29 Mei 2008
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24