Behandeling van plaasdreine en ontsmetting van slagplase
Vraag:
Watter chemikalieё, wat nie my grondwater gaan beїnvloed nie, kan ek gebruik vir my plaasdreine en ook vir die slagpale op my plaas? Ek soek na iets wat die vaste stowwe soos bloedstolsels kan oplos en ook die reuke wegvat of verminder. Ek sal graag dan die dreinwater weer wil gebruik op groente of lusern, want water is skaars en baie duur by ons in die Noorde van Namibië.
Antwoord:
Die neiging is deesdae om so ver moontlik van ‘n natuurlike benadering gebruik te maak om organiese afval te bestuur. Organiese afval soos bloed vanaf ‘n slagpale kan behandel word met ‘n oplossing van gekonsentreerde mikroörganismes (bakterieë en swamme). Hierdie behandelingstegnologie word EM (“Effective Microbes”) -tegnologie genoem en behels die aanwending van voordelige mikrobes in die plek van chemikalieë om skadelike afvalprodukte te neutraliseer of om te skakel na voordelige byprodukte.
Heelwat van hierdie mikrobe produkte (EM produkte) is in die handel beskikbaar. In die geval van slagpale-afval het ek al die produk QCM 360 gebruik. Hierdie produk bevat plant groeistimulerende mikroörganismes, mikroörganismes wat organiese materiaal vinnig afbreek, organiese materiaal as koolstofbron vir die mikrobes, vitamiene en ander voedingstowwe om die gemeenskap van mikrobes in staat te stel om te oorleef en die afval produk aktief te gebruik as voedselbron. Die mikrobes vermeerder vinnig in die organiese afval na toediening en reuke behoort binne drie dae te verdwyn. Die mikrobes kompeteer ook skadelike bakterieë (patogene) in ’n groot mate uit sodat die behandelde afval minder skadelik vir mens en dier is. Indien u lusern of ander gewasse wil besproei met die behandelde slagpale afval, is dit altyd raadsaam om eerder van vloedbenatting gebruik te maak aangesien bakterieë in die aerosol van oorhoofse besproeiing ’n gevaar vir mense kan inhou.
QCM 360 is ‘n gemengde kultuur van aёrobies (suurstof liewende organismes) en fakultatief anaёrobiese (lewe in teenwoordigheid of afwesigheid van suurstof) voordelige mikrobes wat toegedien word as ‘n inokulant om die geselekteerde voordelige mikroörganisme verskeidenheid in die afval te vestig en die teikenproduk vinnig af te breek. Verhoogde doeltreffendheid word verkry wanneer QCM 360 gelyktydig saam met Vital Soil MicrobeMaxx toegedien word om as voedselbron vir die mikroörganismes te dien.
Hierdie produkte kan vanaf die firma OdorCure in Pretoria verkry word. Praat met mnr. Johan de Bruyn by foonnommer: (012) 348-8537 of e-pos: jdebruyn@odorcure.com.
5 Februarie 2012
6 Februarie 2012
1210 keer
gelees |
0 kommentaar