Chemikalieë

Sinkfosfied is springhaasrot se moses

Vraag

DAGSE, WIL GRAAG INFORMASIE OF PROGRAM HE HOE OM SPRINGHAAS ROTTE TE BEHEER SONDER OM DIE NATUUR TE BENADEEL?

Antwoord

’n Sinkfosfied-saadbehandeling blyk doeltreffend te wees vir die bestryding van nagmuisskade op saailande.
Dr. Frikkie Kirsten van die Landbounavorsingsraad se Instituut vir Plantbeskerming het die afgelope jaar die doeltreffende bestryding van nagmuise (oftewel springhaasrotte) wetenskaplik ondersoek.
Hy sê hy kan nie die sinkfosfied amptelik aanbeveel nie omdat dit nog nie vir dié doel geregistreer is nie, maar in hul proewe het dit gelyk asof die muise die saad wat daarmee behandel is, vermy.
Die navorsers het nog nie werklik ’n antwoord oor wat die rede daarvoor is nie. Hul teorie is dat die dosis wat op die saad gesit word, nie dodelik is nie, maar waarskynlik genoeg is om die muise siek te maak. Hulle vermy dan dié kos.
Die muiskolonies toon ’n sterk sosiale gedrag, wat beteken ander muise kry waarskynlik die sinkfosfiedreuk vanaf ’n siek muis wat die behandelde saad gevreet het en bly dus ook weg van saad wat daarna ruik.
Frikkie en sy span het ook die doeltreffendheid van ammoniakgas en ’n wasblokkie-lokaas getoets. Die ammoniakgas het nie die hoeveelheid aktiewe nagmuisgate merkbaar verminder nie. Die wasblokkie-lokaas blyk net doeltreffend te wees in tye wanneer die voedselvoorraad in die mielielande laag is (wanneer daar nie pitte in die grond is nie).
Frikkie beveel minstens drie lokaastoedienings aan met tussenposes van vyf tot sewe dae, net voor planttyd.
Hy voeg by dat hulle geen bewys kon vind vir die gerug dat bewaringslandbou (wat ploeg uitsluit) nagmuise bevorder nie.
In hul navorsingwerk in die distrik
Wesselsbron, waar geenbewerking nog ’n skaars praktyk is, het hulle groot getalle nagmuise opgespoor. Daarteenoor was daar die afgelope groeityd betreklik min nagmuise rondom Ottosdal, waar heelwat geenbewerkingboere is.
Frikkie meen die laaste vyf jaar se bevolkingsontploffing in nagmuisgetalle is deel van ’n natuurlike siklus. Die muisgetalle is nou weer aan die afneem.
Dit beteken nie boere is voortaan van die plaag kwytgeskeld nie; bevolkings sal altyd weer as deel van die natuursiklus in die toekoms opbou (en daal), sê hy.
* Geskryf deur MARLEEN SMITH

Navrae: Dr. Frikkie Kirsten, tel. 012 808 8217; e-pos: kirstenf@arc.agric.za.

Kommentaar

Een kommentaar op “Sinkfosfied is springhaasrot se moses

  1. Alexander Roux.
    Alexander Roux.

    Ek wil graag weet of daar n moontlike antwoord is op hoeveel Nagmuise in die gatte vrek en of hulle gewoontlik maar uitkom om te vrek ?


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.