Ontleding van drinkwater en minerale status van diere
Vraag:
Ek het boorgatwater vir veesuipings laat ontleed. 'n Spesifieke boorgat se water bevat onder meer 140 mg/l kalsium, 146 mg/l magnesium, 1629 mg/l natrium, 799 mg/l swael. Die chloriede is 949 mg/l en die sulfate 2 129 mg/l. Het u enige advies i.t.v. wysigings in die standaardresepte van byvoeding of lekke om dit te help korrigeer en of dit enigsins nodig is?
Dankie. Johannes van der Westhuizen, Prieska-distrik
Antwoord:
Water word algemeen beskou as een van die belangrikste voedingstowwe vir diere (Adams & Sharpe, 1995). Diere benodig voldoende goeie gehalte, skoon drinkwater vir normale rumenfermentasie en metabolisme, deeglik vloei van die voer deur die spysverteringskanaal, goeie voedingstofabsorpsie asook vir normale bloedvolume en weefselbehoefte (Adams & Sharpe, 1995). Dit is bekend dat drinkwatergehalte 'n invloed op diereprestasie kan hê. Onderstaande tabel vergelyk jou boorgatwater met die standaard aanbevole riglyne.
)

Om die dier se mineraalinname vanaf sy waterinname te beraam, is baie moeilik omdat die dier se presiese daaglikse waterinname onbekend is en omdat daar groot variasie tussen diere voorkom betreffende hulle waterinname. Diere se waterbehoeftes word deur verskeie faktore bepaal soos onder andere die omgewingstemperatuur; beskikbaarheid van skaduwee; seisoen van die jaar; afstand wat hulle daagliks na die naaste waterpunt moet loop; tipe weiding (groen of droog); hulle totale soutinname vanuit drinkwater, lekke en weiding (bv. brak- en soutbossies); fisiologiese stadium van die dier (bv. droog vs. lakterend); liggaamsmassa van die dier; droë materiaalinname; temperatuur van drinkwater (verkies drinkwater wat se temperatuur laer as liggaamstemperatuur is); ras; ouderdom; skeer van skape; ensovoorts. Skape se waterinname kan van 2 tot 6 liter per dag varieer, maar skape wat byvoorbeeld oumansoutbos bewei se waterinname kan so hoog as 12 liter per dag wees (Puls, 1988; Markwick, 2007). Die waterinname van vleisbeeste varieer van 25 tot 140 liter per dag (Puls, 1988; Markwick, 2007).
Een van die groot waardes van die ontleding van die drinkwater is eerstens om te bepaal of dit geskik is vir dierlike gebruik en of dit nie skadelike stowwe soos chemikalieë en giftige alge, veral die blougroen-alge) bevat nie. Drinkwater moet voortdurend vir totale bakterietellings, veral kolivormig- (coliform) en streptokokkus- (streptococcus) bakterieë ontleed word en regstellende stappe moet gedoen word indien die tellings hoog blyk te wees.
Tweedens word drinkwater ontleed om te bepaal of dit nie 'n te hoë konsentrasie van sekere minerale of verbindings (bv. yster, swawel, kalsium, chloriedes, nitrate, ensovoorts) bevat wat diereprestasie kan benadeel nie. Te hoë inname van yster, swawel en kalsium vanuit die drinkwater kan sekere spoorelementtekorte induseer weens hulle antagonistiese werking terwyl te hoë nitraatinname swak groei tot gevolg kan hê. So byvoorbeeld kan 'n te hoë sulfaat- en magnesiuminname ook tot chroniese maagwerk aanleiding gee. Bogenoemde boorgatwater se sulfaatinhoud is aan die hoë kant en kan heel waarskynlik spoorelementtekorte soos sink-, selenium- en kopertekort tot gevolg hê (Puls, 1988). Die res van die mineraalontleding val binne die aanvaarbare standaardriglyne.
Diere kry hulle minerale vanaf verskeie bronne soos drinkwater, plante (weiding), grond (neem dit saam met die plante in of stof wat op plante lê), lekke en voere. Wanneer bepaal wil word of diere voldoende minerale (makro-minerale en spoorelemente) inneem, moet eers bepaal word wat hulle totale mineraalinname vanuit al die bronne is. Dit is baie moeilik indien nie onmoontlik nie om dit akkuraat in die praktyk te bepaal. Gestel ons kan die totale mineraalinname bepaal en dit dan vergelyk met die dier se mineraalbehoeftes wat ons van tabelle kan aflees, kan ons nog nie met honderd persent akkuraatheid sê dat die dier te veel, voldoende of te min minerale ingeneem het nie. Die rede is dat elke mineraal wat ingeneem word, word nie honderd persent geabsorbeer nie en dus weet ons nie hoeveel van die ingenome minerale uiteindelik in die bloed geabsorbeer word nie. Soos reeds vroeër na verwys is, is sekere minerale (yster, swawel, molibdeen, kalsium, ensovoorts) antagoniste wat die opname (absorbering) van ander soos sink, selenium en koper onderdruk en gevolglik kan dit tekorte induseer.
Die beste opsie is altyd om eers te bepaal wat die diere se mineraalstatus is en of daar mineraaltekorte voorkom voordat op 'n aanvullingstrategie besluit word. Die mineraalstatus van die diere word bepaal deur die konsentrasie van die minerale in byvoorbeeld die lewer of bloed van die diere te bepaal. Makrominerale soos kalsium, fosfor en magnesium word meer akkuraat in die bene as in die bloed en lewer bepaal. Ons as navorsers sal 'n klein ribmonster uit die dier se rib onder lokale verdowing uitboor en dit dan ontleed. Spoorelemente soos koper, mangaan en sink word weer meer akkuraat in die lewer bepaal. Indien mineraaltekorte of wanbalanse gediagnoseer is, kan op die mees geskikte aanvullingstrategie besluit word. Om vas te stel of die aanvullingstrategie suksesvol was, moet die diere se mineraalstatus van tyd tot tyd gemonitor word. Ongeveer drie maande nadat met die aanvullingstrategie begin is, kan weer monsters geneem word om te bepaal of die aanvullingstrategie die mineraalbalans herstel het. Sekere mineraaltekorte kan maklik drie tot ses maande neem om reggestel te word.
Wat makrominerale aanbetref, moet 'n dier 'n groter hoeveelheid daarvan inneem as in die geval van spoorelemente. So byvoorbeeld benodig 'n 60 kg lakterende ooi wat twee lammers soog minstens 4.6 g kalsium per dag. Indien hierdie ooi 4 liter van bogenoemde boorgatwater per dag drink, sal sy slegs 0.56 g kalsium (d.i. 140 mg kalsium x 4 liter) deur die water inkry. Die res (4.04 g kalsium) moet sy uit die weiding en lekke inkry om in haar kalsiumbehoeftes te voorsien. Wanneer 'n lekkeuse gemaak word, moet die volgende faktore in ag geneem word, naamlik hoeveelheid (min of volop), gehalte (groen of droog) en tipe weiding (gras, bossies, oesreste, ens.); tipe dier (skaap, bok of bees); fisiologiese stadium (groeiend, droog, dragtig of lakterend); kondisie (maer of vet); produksievlak verlang (laag of hoog); klimaatstoestande; ensovoorts. Vir vleisbeeste gebruik ons minstens 'n drie-faselekprogram in die somerreënvalgebied, byvoorbeeld fosforaanvulling in die somer op groen veldgras; proteïenaanvulling in die winter op droë veldgras en 'n produksielek in die laatwinter wanneer die gras skaars en van 'n swak gehalte is. In die geval van skape het ons vir elke fisiologiese stadium 'n ander tipe aanvulling.
Makrominerale vir vleisbeeste en skape word hoofsaaklik deur lekke aangevul. Spoorelemente word tweeledig (lekke en inspuitings) aangevul. Die spoorelementstatus van weidende diere word reg deur die jaar via lekke aangevul, maar dan voor sekere kritiese tye (paring, lam/kalf, speen, afronding, ens.), wanneer die diere 'n baie hoë spoorelementbehoefte het, word sekere spoorelemente deur middel van 'n inspuiting (bv. Multimin) aangevul. Weens die voorkoms van antagoniste wat die absorpsie en beskikbaarheid van spoorelemente verlaag, moet spoorelemente addisioneel via 'n inspuiting aangevul word en ook omdat alle diere nie lek of nie voldoende lek vreet nie. Gebruik slegs beproefde lekke van lekmaatskappye met bewese goeie resultate in die praktyk. Indien onseker, moet 'n hoogs kundige voedingspesialis wat oor jare se praktykervaring beskik, geraadpleeg word.
Geskryf deur: Dr. Jasper Coetzee, Professionele Veekundige (400328/83), Kleinveevoeding- en Bestuurspesialis (jasperco@iafrica.com)2
Lees ook:
Skoon water vir vee en wild
Skoon water vir vee – beheer van alge en watergrasse
Beheer van watergrasse in plaasdamme
Watergras in plaasdam
Beheer van groen alge en wateronkruid
Dooie alge in water
Gevaar van kopersulfaat in drinkwater
Brakwater vir vee
Invloed van drinkwater met ‘n lae pH en hoё ystervlakke op die groei van diere
Spoorelemente in herkouers (Deel 1)
Spoorelemente in herkouers (Deel 2)
Spoorelementbenodigdhede van melkbeeste
Spoorelementbenodigdhede van vleisbeeste
Rooibruinhaarverkleuring in beeste
Sonder spoorelemente sukkel vleisbeeste
Yster as antagonis
Antagoniste vir spoorelemente
22 Junie 2012
819 keer
gelees |
0 kommentaar