Selfmeng van lekke

Vraag:

Ek boer 250 km noord van die Zambiese grens in die DRK. Om Landbouprodukte hier te kry, is 'n probleem en duur. Kan jy asb. vir my 'n selfmengmineraal (veral fosfaat) lek aanbeveel vir bees, skaap en bok wat ek in die droë maande (Mei tot November) kan gee.

Antwoord:

Uit 'n voedingsoogpunt is dit basies nie korrek om net 'n fosfaatlek op droë weiding aan te vul nie omdat dit teenproduktief kan wees.  Die eerste beginsel met lekaanvulling is om die eerste beperkende voedingstof aan te vul.  Indien hierdie beginsel nie gehandhaaf word nie, gaan die gewenste respons nie met 'n lekaanvulling verkry word nie.  Op droë weiding is die eerste beperkende voedingstof proteïen en daarom moet proteïen saam met die fosfaat aangevul word.


Wanneer droë weiding 'n proteïeninhoud van minder as 6 % en 'n verteerbaarheid van minder as 45 tot 50 % het, is dit nie meer in staat om in diere se onderhoudsbehoefte te voorsien nie.  Droë wintergras se proteïeninhoud kan so laag as 3.5 % met 'n verteerbaarheid van so laag as 35 tot 45 % wees.  Oorsese navorsing toon dat waar proteïen (bv. ureum) aan die diere verskaf word dit vertering van gras in die rumen (grootpens) sal bevorder.  ‘n Bydraende probleem tot die swak diereprestasie op droë weiding is dat die potensiële energie in die droë gras nie ontsluit kan word nie weens die gedeeltelike lignifikasie daarvan en tweedens deur ‘n onaktiewe mikroörganisme-populasie in die rumen as gevolg van tekort aan hoofsaaklik proteïen, minerale en maklik beskikbare energie.

 

Droë weiding se verteerbaarheid kan slegs verhoog word indien die rumenmikroörganismes (RMO) in die grootpens van die dier gestimuleer word om dit maksimaal te verteer.  Om dit reg te kry, moet ‘n gunstige rumenomgewing vir rumenmikroörganismes geskep word, met ander woorde alle voedingstoftekorte (bv. proteïen, minerale en Vitamien A) moet aangevul word.  Minerale wat veral belangrik is om maksimum vertering van vesel deur die rumenmikroörganismes te verseker, is fosfor, swawel, magnesium en kobalt.

Proteïenlekaanvulling neem normaalweg ‘n aanvang met massastilstand van die diere of na die eerste goeie ryp.  Proteïen-aanvulling het ten doel om die mikrobegroei in die grootpens (rumen) te stimuleer wat tot verhoogde veselvertering en gevolglik weidingsinname aanleiding gee.  Die standaard aanbeveling is om onderskeidelik 150 en 180 g proteïen/bees/dag op soetgras- en suurgrasveld te voer.  Bekker (1994) se studies toon egter dat dit soms nodig is om 200 g proteïen op soeter veld en 250 g proteïen/bees/dag op suurveld vir onderhoud te voorsien.

Dit blyk dat die peil van proteïenaanvulling van kardinale belang is vir suksesvolle benutting van droë weiding deur skape en bokke.  Vir droë en vroeë dragtige kleinvee (skape en bokke) moet ongeveer 45 g proteïen en 60 g TVV/dier/dag (± 0.9 MJ ME/skaap/dag) op droë weiding voorsien word.  Om laatdragtige ooie suksesvol op droë weiding aan te hou, moet daagliks minstens 60 g proteïen per ooi, waarvan minstens 25 % deurvloeiproteïen moet wees en 200 g TVV/ooi (± 3 MJ ME/ooi/dag) voorsien word.  Voorlopige resultate van langtermynproewe toon dat enkele produsente, wat hulle lamtyd geskuif het sodat dit nader aan die reënseisoen is en wat minstens 100 g proteïen en 300 g TVV/ooi/dag ( ± 4.5 MJ ME/ooi/dag) voorsien het, daarin geslaag het om volwasse ooie met enkelinglammers net op veld sonder enige aangeplante groenvoer aan te hou. 

'n Basiese proteïenlek bestaan uit:

·       Proteïenbron (bv. voergraad ureum of 'n kommersiële proteïenkonsentraat of natuurlike proteïenbron)

·       Fosfaatbron (bv. 'n kommersiële fosfaatbron wat dikwels ook kalsium en spoorelemente bevat)

·       Spoorelementvoormengsel indien die proteïen- of fosfaatbron dit nie bevat nie.  Dit is belangrik dat die spoorelementreserwe van weidende diere deurgaans aangevul word om optimale groei en reproduksie te verseker.

·       Mieliemeel

·       Voergraad swawel

·       Veesout (om die inname te help reguleer)

·       Bindmiddel (bv. melassestroop of Kalori 3000)

Die proteïenlek wat gemeng kan word, sal afhang van watter grondstowwe plaaslik beskikbaar is of verkry kan word.  Hierdie proteïenlek moet volgens die betrokke vervaardigers  van die onderskeie produkte gemeng en gevoer word.

Indien die gewenste respons met proteïenlekke nie verkry word nie, is die mees algemene oorsaak, behalwe ‘n tekort aan droë weiding, ‘n te lae totale proteïeninname weens ‘n te lae lekinname of weens ‘n oorskatting van die proteïen wat vanaf die weiding voorsien word.  In hierdie geval moet proteïeninname vanaf die lek verhoog word, maar dat moet streng volgens die vervaardigers van die onderskeie produkte se voorskrifte en instruksies gehandel word.  Dit is belangrik dat daar voldoende lekbakvreetspasie is sodat elke dier sy regmatige deel kry.  Maksimum vertering van droë ruvoer kan verseker word deur te voorkom dat diere langer as 24 tot 36 uur sonder 'n proteïenlek is.  Lekaanvulling op droë weiding is noodsaaklik om weiding meer doeltreffend te benut asook om die omsetting van weiding na ‘n bemarkbare produk (bv. vleis, wol, vesel en melk) te bevorder.

Geskryf deur: Dr. Jasper Coetzee, Professionele Veekundige (400328/83), Kleinveevoeding- en Bestuurspesialis (jasperco@iafrica.com)

25 Junie 2012

1974 keer gelees | 3 kommentaar

Kommentaar
Slegs in Afrikaans


Dr. W.M.O'Donovan

2012/12/12 12:10:29 PM

ek het onlangs 'n oorsig artikel geskryf oor die beginsels van lekaanvulling in Suidelike Afrika gegrond op baie en goeie lokale navorsing wat in my artikel aangehaal word met al die verskeie navorsers se data. ek sou dit graag per e-pos aanstuur as ek die persoon se e-pos besonderhede kan kry. ek is 'n geregistreerde voedingkundige by SASAS en het vir baie jare vir Rumevite in 'n tegniese hoedanigheid gewerk


Johan Hattingh

2013/03/26 09:37:31 PM

Ek bedryf deeltyds 'n beesboerdery in die Noord Kaap naby Danielskuil. Ek sal graag die artikel van Dr WM O'Donovan wou lees. Kan ek dit op 'n manier in die hande kry?


Hermanus

2013/05/13 08:09:28 PM

Sal gaaf wees om die artikel geskryf deur Dr. WM O'Donovan te ontvang indien beskikbaar. Bees boerdery Namibia.

Naam Kommentaar
E-pos
Tik in die nommers  

Kry ons op jou foon

Vind jou perfekte maat nou!

Ek is 'n:
Stel belang in:
Ouderdom: tot
Huidige
Ligging:
Wys net profiele met foto's

Teken in vir die nuusbrief

Teken in op Landbou se weeklikse nuusbrief deur jou e-posadres hier in te vul.

Lewende Hawe

Soort 08/05/13 15/05/13 %
Beesvleis A2/A3 2790c 2794c down 0.1
Speenkalf (lewend) 1594c 1583c down -0.7
Skaapvleis A2/A3 4328c 4374c down 1.1
Varkvleis (gem. prys) 1765c 1767c down 0.1
Braaikuikens 1478c 1483c down 0.3

Aandele

Pricecheck Flights